Bo: ‘n Bottelneusfdolfyn aan die Namibiese kus.

Universiteit van Stellenbosch

‘n Internasionale span wetenskaplikes het daarin geslaag om met behulp van die eiesoortige fluitgeluide van bottelneusdolfyne, die grootte van hul bevolking te bepaal én hulle beweging langs die Namibiese kuslyn na te spoor.

Met hierdie navorsing wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Plymouth (UK) gelei is, is akoestiese monitering vir die eerste keer ingespan in die generering van getalleskattings van dolfynpopulasies, in plaas van die bekende metode van die gebruik van foto’s. 

In hul artikel in die Journal of Mammalogy, sê die navorsers hulle is baie opgewonde oor die positiewe resultate wat hierdie metode opgelewer het. 

Moeder- en kalfie bottelneusdolfyne gebruik dikwels eiesoortige fluite om mekaar uit te ken en kontak te behou. Foto: Dr Simon Elwin.

Moeder- en kalfie bottelneusdolfyne gebruik dikwels eiesoortige fluite om mekaar uit te ken en kontak te behou. Foto: Dr Simon Elwin.

Namibië se bottelneusdolfyne wat bestaan uit tussen 82 tot 100 individue, is die enigste populasie van bottelneusdolfyne wat digby die kus, langs die Suider-Afrikaanse kuslyn, voorkom. Foto: Dr Tess Gridley.

Namibië se bottelneusdolfyne wat bestaan uit tussen 82 tot 100 individue, is die enigste populasie van bottelneusdolfyne wat digby die kus, langs die Suider-Afrikaanse kuslyn, voorkom. Foto: Dr Tess Gridley.

Die geskatte getal dolfyne (deur midddel van die gebruik van klank) was byna presies dieselfde as die geskatte getal wat bepaal is deur middel van die meer tradisionele metode waar foto’s gebruik word vir die uitkenning en tel van die diere in die bevolking.

Hulle werk nou aan die verfyning van die tegniek met die hoop dat dit ook gebruik kan word om ander spesies na te spoor – met ‘n fokus tans op bedreigde spesies soos die boggelrugdolfyne.

Met die vinniger prossessering van inligting en vooruitgang op die gebied van statistiese analise, sal die outomatiese opsporing van eiesoortige roepe van individue dalk in die toekoms moontlik kan wees. Dit kan belangrike inligting oor individuele diere genereer en sal veral nuttig wees vir klein, bedreigde bevolkings waarin elke individu belangrik is.

“Die waarneming-herwaarneming (capture-recapture) van individueel eiesoortige fluitgeluide is nog nooit vantevore aangepak nie,” sê die senior skrywer van die artikel, dr Tess Gridley, mededirekteur van Sea Search en die Namibiese Dolfynprojek, en ‘n nadoktorale genoot in die departement plant- en dierkunde by die US.

“Die dolfyne gebruik hierdie geluide regdeur hulle lewe en elkeen het sy of haar unieke fluit. Deur die opneem van eiesoortige fluite oor ‘n tydperk en in verskillende plekke, kon ons uitwerk hoe diere rondbeweeg en hoeveel daar van hulle is.”

 Die Namibiese Dolfynprojek doen al die afgelope 12 jaar navorsing onder Namibië se plaaslike bottelneusdolfyne, in samewerking met dr. Simon Elwen van die US. Sedert 2009 het hulle ‘n katalogus met meer as 55 eiesoortige fluitgeluide opgebou.

Die dolfyne is versprei oor die gebied van omtrent 1000 km langs die kuslyn by Möwebaai, noord tot by Walvisbaai, en suid tot by Luderitz. Foto: Dr Tess Gridley.

Die dolfyne is versprei oor die gebied van omtrent 1000 km langs die kuslyn by Möwebaai, noord tot by Walvisbaai, en suid tot by Luderitz. Foto: Dr Tess Gridley.

Hierdie spesifieke studie is deur Emma Longden gelei, wat die projek tydens haar Honneurs BSc-studies in mariene biologie aan die Universiteit van Plymouth begin het. As voorgraadse student het Emma in 2016 ‘n maand lange internskap by die Namibiese Dolfynprojek voltooi en in 2018 teruggekeer ten einde haar werk met die waarneming-herwaarnemingsprojek te voltooi.

Sy het meer as 400 uur se akoestiese data geanaliseer wat verkry is van vier hidrofone wat gedurende die eerste ses maande van 2016 langs die kus, noord en suid van Walvisbaai, Namibië geposisioneer is.

Hulle het altesaam 204 akoestiese gebeurtenisse geïdentifiseer, waarvan 50 eiesoortige fluittipes bevat het. Vanuit hierdie gebeurtenisse, is 53 eiesoortige fluittipes geïdentifiseer, 40 was reeds in ‘n bestaande katalogus wat in 2014 vir die Walvisbaaise bottelneusdolfynbevolking opgestel is, en 13 nuwes is geïdentifiseer.

Van die 53 eiesoortige fluittipes wat geïdentifiseer is, is 43% slegs een maal teëgekom, terwyl die meerderheid (57%) wéér twee of meer keer teëgekom is.

“Een van die wonderlike dinge oor bio-akoestiek is dat jy ‘n hidrofoon vir weke lank op ‘n slag in die water kan los en so baie data kan insamel sonder om met die lewe van die diere wat jy bestudeer, in te meng,” sê Emma, wat haar projek onder die studieleiding van dr Clare Embling, medeprofessor in mariene biologie by die Universiteit van Plymouth, gedoen het.

Toekomstige navorsing sluit die werk van PhD-student Sasha Dines van die US in, wat die tegniek verder sal verfyn ten einde die bedreigde boggelrugdolfyne in Suid-Afrika beter te verstaan. Nog ‘n PhD-student, Jack Fearey van die Universiteit Kaapstad, sal voortgaan om navorsing langs die Namibiese kus te doen.

Meer oor die bottelneusdolfyne se gebruik van klank
Vanaf geboorte produseer bottelneusdolfyne hoëfrekwensie fluitgeluide. Gedurende die eerste jaar van hul lewe, deur oefen en leer, ontwikkel hierdie fluitgeluide in individueel eiesoortige fluite, en elke bottelneusdolfyn het sy eie unieke roepstem gedurende sy lewe. As dit eers aangeleer is, vervul dié eiesoortige fluit die rol van ‘n naam en word dit gebruik om die diere te help om kontak met mekaar te behou en met mekaar onder water te kommunikeer.

Hierdie eiesoortige fluite help die diere om kontak te behou wanneer hulle van mekaar geskei word, die fluite word onderling uitgeruil voor groepe byeen kom (as ‘n tipe groet) en hulle kan mekaar se fluite namaak om ‘n ander een aan te spreek (op dieselfde manier wat mense name gebruik). Dit is dus vriendelike klanke en word gebruik tussen diere wat mekaar goed ken – soos tussen groepslede en ma’s teenoor hulle kalfies.

Meer oor die Namibiese Dolfynprojek
Die Namibiese Dolfynprojek is ‘n navorsings- en bewaringsprojek wat in Walvisbaai en Luderitz in Namibië gedoen word. Dit word bestuur as deel van die Sea Search, ‘n navorsings- en bewaringsgroep sonder winsbejag, en betrek wetenskaplikes en spesialiste van verskeie Suid-Afrikaanse en internasionale universiteite en instellings. Studente wat sou belangstel kan ‘n internskap by die Namibiese Dolfynprojek en Sea Search doen om belangrike veldwerkvaardighede aan te leer.