Bo: Coetzenburg se veld. Foto: Francois Lombaard.

Universiteit Stellenbosch

As kind het Conran Joseph daarvan gedroom om ’n fisioterapeut te wees wat langs die sportveld staan. As ʼn belowende krieketspeler in hoërskool het hy ’n besering opgedoen en moes hy self behandeling by ’n fisioterapeut ontvang.

Hierdie eerstehandse ervaring van dié beroep het sy lewe verander. “Ek het besef dat sport baie risiko dra vir spelers, die spel is nogal hoog,” onthou hy. “En, gegewe die mate en soort beserings wat ek opgedoen het, het dit my laat dink: as ’n fisioterapeut sal ek na aan die sportsarena kan bly.”

Vandag is medeprofessor Joseph die hoof van die afdeling fisioterapie in die departement gesondheids- en rehabilitasiewetenskappe by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Dr Conran Jospeh, nuwe medeprofessor van die afdeling fisioterapie in die departement gesondheids- en rehabilitasiewetenskappe by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Dr Conran Jospeh, nuwe medeprofessor van die afdeling fisioterapie in die departement gesondheids- en rehabilitasiewetenskappe by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

Sy reis deur die akademie het begin by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar hy ingeskryf het vir ’n Baccalaureus-graad in die wetenskap in fisioterapie in 2005: “Dit was die beginpunt vir my. Daar het ek besef ek wil in die akademie wees,” sê hy. “Ek het my dosente baie hoog geag vir hulle toewyding tot die beroep en hulle insig van fisioterapie as ’n manier om die gesondheid en welstandskwessies van ons land aan te spreek.

“En toe ek die fisioterapie-program verstaan het, het dit tot my deurgedring net hoe belangrik en gespesialiseerd beweging eintlik is, en ek het besef wat die mens se vermoë is om van siekte en besering te herstel. Ek het geheel en al gefassineer geraak deur die wetenskaplike uitgangspunt en die bewysgebaseerde grondslag van fisioterapie.”

Nadat hy in 2008 gegradueer het, het Joseph sy gemeenskapsdiens by die TC Newman-gemeenskap-gesondheidsentrum in Paarl gedoen waar hy pasiënte met beroerte, traumatiese brein- en ruggraatbeserings gesien het wat sy belangstelling in volwasse neurologie laat posvat het: “Dit het my nogal geraak om mense van my ouderdom te behandel, terwyl ek ook die beperkinge van die gesondheidstelsel raakgesien het.”

“Ek het gedink: dit is wat ek wil doen – ’n klein bydrae maak tot die kennis van nuanses in rehabilitasie in ons konteks, en om mense te help om hulle vaardighede te herwin om deel te neem aan aktiwiteite en die rolle te vervul wat sentraal tot hulle lewens is.”

In 2010 is Joseph aangestel as mededosent by die UWK en hy het sy meestersgraad in fisioterapie daar ontvang in 2012. Vier jaar later het hy ’n doktorsgraad voltooi in mediese wetenskap by Karolinska Institutet in Stockholm, Swede, wat oor ruggraatbeserings gehandel het.

In 2016 het hy ’n dosent geword by UWK, waar hy aangebly het totdat hy in Januarie vanjaar by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, aanvanklik om neurologie te doseer. Toe die posisie as hoof van die afdeling fisioterapie oop gegaan het, het hy aansoek gedoen: “Dit is ’n wonderlike geleentheid en ek is gelukkig dat ek suksesvol was.”

Joseph is so te sê onmiddellik gekonfronteer deur die uitdagings van die Covid-19-pandemie: “Ons het baie veranderinge gemaak aan hoe ons die program lewer op die oomblik. Ons probeer nog uitpluis hoe om aan studente ’n transformerende leerervaring te bied, al is dit virtueel.”

“In al hierdie situasies wat ons dink so openlik negatief is, is daar altyd goeie stories en lesse wat geleer kan word. So die idee is om personeel te laat nadink oor die veranderinge wat ons moes maak om sodoende die lesse te identifiseer wat ons daaruit kan leer en saam met ons die toekoms in neem.”

Terselfdertyd is Joseph besig om die planne te implementeer wat hy by sy voorganger geërf het. “Baie van ons programme is tans besig om hersien te word as deel van ʼn kurrikulum hernuwing,” verduidelik hy. “Ek sal daartoe sien dat dit geïmplementeer word.”

Hy voeg egter by dat sy span sal verseker dat hulle programme ’n refleksie sal wees van “ons huidige konteks, ons huidige stories, ons huidige gesondheidsorg-stelsel, sodat ons graduandi sosiale bates kan wees. Sodat wat ons onderrig ooreenstem met dit wat ons studente sal ervaar en moet bestuur sodra hulle graadvang – hulle moet ondersoekend, denkend en empaties wees in hulle benadering.”

Joseph is tot oorlopens toe vol met ander idees ook: “’n Ander belangstelling van my is kulturele bevoegdheid. Ons kan slegs krities en nadenkend wees, en empatie demonstreer as ons kultureel sensitief is en bewustelik omgaan in kulturele ontmoetings. In Suid-Afrika is ons baie gelukkig om so divers te wees soos wat ons is, maar ons moet dit gebruik om transformerende leer te bevorder en studente met die nodige vaardighede en houdings toe te rus.”

“Dit is hoog op die agenda vir die Universiteit Stellenbosch. In lyn met wat ek moet doen, en moet bespreek met diegene hoër op, is hoe ons die diversiteitsprofiel balanseer op voorgraadse en nagraadse vlak. Ek sien die verteenwoordiging van ons diversiteit as ’n maatskaplike verantwoordelikheid, maar ook as ’n bate in terme van die bevordering van ’n kultuur van transformerende leer.”

“Ons kom van diverse agtergronde, met ons eie geloofstelsels, waardes en sosiale norms. Eers wanneer ons hierdie hulpbronne binne elke persoon begin benut, kan ons ’n waardering vir ander en ons veelvoudige perspektiewe ontwikkel. Ek wil graag meer hiervan sien, sodat ons waarlik pasiënt-gesentreerde sorg kan bereik.”

Joseph hou vol dat die perspektiewe van die fisioterapeut – wat opgelei is volgens bewysgebaseerde Westerse geneeskunde – nie tans ooreenstem met die wêrelduitkyk van pasiënte nie. “Daarom moet ons vaardighede in kulturele bevoegdheid aanleer om empaties te kan optree,” sê hy. “Dit is die dryfveer vir die voorsiening van pasiënt-gesentreerde sorg.”

Joseph is sigbaar toegewyd tot sy veld. “Fisioterapie word nie gesien as ’n noodsaaklike diens nie,” wys hy uit. “Dit word amper as ’n luuksheid beskou. As kampvegters vir die beroep moet ons bewustheid skep oor die rol van fisioterapie en die bydrae wat dit maak tot die verbetering van mense se gesondheid.”