Bo: Studente op die trappe van die Universiteit van Stellenbosch se Rooiplein.

Sue Seger, department korporatiewe kommunikasie

Medeprofessor Christine Lochner het nog ’n veertjie in haar hoed gekry toe sy onlangs ’n gesogte toekenning van die Nasionale Wetenskap en Tegnologie-forum (NSTF) ontvang het. Dié prestigeryke toekenning word ook die “Wetenskap Oskar” genoem.

Lochner het die TW Kambule-NSTF-toekenning in die navorsingskategorie ontvang. Dit is ter erkenning vir die bydrae wat sy deur middel van navorsing gemaak het oor ’n tydperk van minstens ses, tot soveel as 15 jaar. Die fokus van haar navorsing is hoofsaaklik op obsessiewe kompulsiewe versteuring (OKV), wat beskryf word as “’n algemene en aftakelende toestand wat bydra tot individuele en maatskaplike lyding en yslike ekonomiese kostes”.

As mededirekteur van die SAMNR se Eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Geestesversteurings en met ʼn PhD in Psigiatrie, het Lochner al vele toekennings ontvang.

Prof Christine Lochner. Foto: Wilma Stassen.

Prof Christine Lochner. Foto: Wilma Stassen.

Sy het ondermeer al die Rafaelson-genootskaptoekenning ontvang vir uitstaande jong navorsers in neuropsigofarmakologie navorsing van die Collegium Internationale Neuropsychopharmicologicum (CINP), die Lundbeck Internasionale Stigting vir Neurowetenskap se Borgskaptoekenning vir jong wetenskaplikes, NNS-gradering en die Kanselierstoekenning vir Uitnemendheid in Navorsing van die Universiteit Stellenbosch.

Oor haar nuutste prestasie beskryf Lochner die toekennings as ’n “viering van Suid-Afrikaanse uitnemendheid en ’n lieflike verrassing. Dis ’n veertjie in jou hoed om so ’n gesogte toekenning te ontvang. Ek is dankbaar vir die erkenning en die aanmoediging.”

Sy het gesê dat die toekenning ook ’n gulde geleentheid was om die belangrikheid van wetenskaplike navorsing uit te lig in die gebied van geestesgesondheid, en hoe dit die samelewing kan baat.

Sedert 2001 het Lochner verskeie bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur en omvattende kliniese en genetiese data ingesamel van sowat 1000 pasiënte met obsessiewe kompulsiewe steurnisse, asook MRI-data van ’n onderafdeling. Dit kulmineer in ’n uiteenlopende databasis wat gelei het tot samewerkingsgeleenthede met van die wêreld se voorste navorsers, en talle publikasies opgelewer het.

Sy het verduidelik dat bewusmaking van OKV belangrik is aangesien sowat 1.2 miljoen mense in Suid-Afrika deur OKV en obsessiewe kompulsiewe verwante steurnisse (OKVS) geraak word. OKV is ’n belangrike geestestoestand gegewe die hoë voorkoms daarvan en die gestremdheid wat daarmee verband hou.

“Kennis van OKV en OKVS (soos byvoorbeeld trigotillomanie) het oor die afgelope 20 jaar eksponensieel toegeneem, maar dit wil voorkom asof daar steeds verskeie mites daar rondom is – ’n algemene misverstand van wat OKV eintlik behels en hoe die gemiddelde persoon dit verstaan. Byvoorbeeld, mense misgis netheid en organisering met OKV!”

“Ek hoop dat my en my kollegas se werk aan OKV en OKVS sal help om die kennisgaping te vul, sodat mense ’n beter begrip kan kry oor wat hierdie toestande eintlik behels. Dit sal waarskynlik empatie en geduld vir mense met die toestand te weeg bring, en ook maak dat mense hulp uitsoek. As ’n persoon (of die ouer van ʼn jong kind) simptome kan erken en benoem, dan is dit meer waarskynlik dat hy of sy die gepaste mediese hulp sal uitsoek.”

“My werk dra by tot die huidige kennis oor hierdie benadelende toestande wat moontlik sal lei tot meer akkurate diagnose en beter sorg – van die individu, asook die samelewing.”

“Die siektelas wat verband hou met hierdie steurnisse – ondermeer op ’n persoonlike/emosionele vlak, asook die finansiële las – neem uiteindelik af a.g.v. werk van hierdie aard en skaal. Die gehalte van lewe van hierdie pasiënte en hulle geliefdes sal gevolglik hopelik verbeter.”

Sy brei uit oor hoe hierdie toestand kan bydra tot lyding en uitgawes: “Hierdie steurnisse hou verband met beduidende nood en funksionele gestremdheid – vir die individu, vir die mense wat vir hom of haar sorg, sy/haar familie of sy/haar geliefdes, asook die samelewing.”

“Bykomend tot die geestelike las, is daar ’n betekenisvolle ekonomiese/finansiële koste verbonde aan ’n lewe met OKV. Byvoorbeeld: vir die individu met was/skoonmaak bekommernisse en kompulsies is daar koste verbonde aan skoonmaak-/ontsmettingsmiddels; vir diegene met skade-verwante bekommernisse, is daar uitgawes verbonde daaraan om heen en weer te ry om vir skade te gaan kyk, of ekstensiewe oproepe om skade te voorkom; of mense met siekte/liggaamsbekommernisse, is daar besoeke aan spesialiste en herhaaldelike ondersoeke. OKV hou ook gereeld verband met komorbiditeite – byvoorbeeld, ’n beduidende aantal mense met OKV ly ook aan depressie wat kliniese aandag vereis. Die afname in effektiwiteit by die werk dra ook by.”

“Die slotsom is dat suksesvolle behandeling vir OKV moontlik beduidende ekonomiese voordele inhou – vir die individu en die sameleweing.”

Gevra wat die vooruitsigte is vir haar loopbaan het Lochner gesê dat alhoewel die Covid-19-pandemie en inperking baie uitdagings te weeg gebring het, sy sal voortgaan met onderrig en toesig by die universiteit.

“Vir die volgende vyf jaar sal my navorsing fokus bly op die kompulsiewe/impulsiewe spektrum van steurnisse, ondermeer OKV, trigotillomanie en problematiese gebruik van die internet.”

“Tesame met my kollegas en samewerkingsvennote, hoop ek om voort te gaan om daartoe by te dra om betekenisvolle kliniese aspekte van OKV en OKVS te verbind met die neurobiologiese onderbou, en om dit te koppel aan spesifieke breinstrukture.”

“Ek is ook by ander fokuspunte betrokke saam met plaaslike en internasionale samewerkingsvennote en ons het onlangs ’n toekenning van die Nasionale Navorsing-stigting ontvang om ’n multinasionale projek te doen wat poog om persoonlike geneeskunde in die veld van kliniese neurowetenskap te bevorder.”

“My werk is nie naastenby klaar nie.”