– Hoërskool Stellenbosch se gronde. Foto: Hoërskool Stellenbosch.

Lia Snijman

Rheba la Grange (14) is ‘n gr. 9-leerder by Hoërskool Stellenbosch wat pas die vierde plek nasionaal behaal het in ‘n kreatiewe skryfkompetisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die leerders kon kies om ‘n stuk prosa of ‘n gedig te skryf oor enige onderwerp. Rheba se stuk, Wolwedans, “probeer ‘n punt bewys van hoe desperaat mense kan wees om deur ander aanvaar te word”.

Oor haar hoë plasing in die kompetisie sê sy: “Ek het dit glad nie sien kom nie! Ek was baie dankbaar, natuurlik, maar verbaas. Ek het nog nie voorheen aan enige skryfkompetisies deelgeneem nie.” Boonop is sy nog maar in gr. 9 terwyl studente tot en met matriek kon deelneem.

 “Ek het eers laasjaar ontdek dat skryf goed is vir die siel! Ek het my emosie deur my pen laat vloei, dit was baie bevredigend. Ek het ook van die feit gehou dat ‘n mens net met woorde kan speel totdat dit iets mooi vorm,” sê Rheba.

Sy sê dat sy haar Afrikaanse klasse geniet aangesien hulle baie vryheid kry met kreatiewe skryfwerk. “Ons word aangemoedig om skryfstukke as kunswerke te sien wat met woorde geverf moet word,” verduidelik sy. 

Rheba la Grange.

Rheba la Grange.

Lourette Erasmus, haar Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Stellenbosch, sê dat Rheba deelnemend is in haar klasse en “besonder goeie taalvaardighede” het. “Sy is eintlik begaafd – ek was dus nie verbaas dat sy so goed gevaar het nie. Sy is ook baie kreatief, speel goed viool en sing ook besonder mooi,” sê Erasmus.

Sy noem dat die Akademie goeie motiveringswerk doen vir hul jaarlikse kompetisie. “Ek dink dit is belangrik om aan leerders te wys, dat hulle buite die klaskamer en weg van die tradisionele ‘opstelle’ meer vry kan skryf,” sê sy.

Gewoonlik nooi die Akademie toppresteerders na ‘n skryfskool, maar weens Covid-19 is dit hierdie jaar gekanselleer.

“’n Taalonderwyser bly maar altyd hoop en glo dat leerders sal verstaan dat taal- en skryfvaardighede ‘n lewensvaardigheid is, wat oneindige potensiaal kan ontwikkel. ‘n Mens sal altyd moet kan skryf – in enige werk en onder enige omstandighede,” sê Erasmus.

Rheba vertel dat sy moontlik eendag ‘n beroep sal wil volg waar sy van haar skryfvaardighede kan gebruik maak, maar tot dusver weet sy nie wat sy na skool wil doen nie. Boonop het sy klomp verskillende belangstellings.