– Bo: Die onwettige varkplaas in die Papegaaibergnatuurreservaat.

Danie Keet

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Stellenbosch-tak is baie ontevrede oor die teleurstellende terugvoer wat die organisasie van die Stellenbosch-munisipaliteit ontvang het rakende die munisipaliteit se voorneme om ‘n gedeelte van die Papegaaiberg-natuurreservaat af te sny en aan diegene wat tans onwettig die grond beset te skenk.

Alhoewel die munisipaliteit in hul skrywe toegee dat ‘n moontlike grensverskuiwing nie ideaal is nie en dat dit ‘n moontlike gevaarlike presedent vir die toekoms kan skep, beplan die munisipaliteit egter om voort te gaan om die besluit voor die raad te laat goedkeur. 

Die skrywe volg nadat AfriForum ‘n skrywe aan Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gerig het. 

“Dit is noodsaaklik dat behuising en sosiale aangeleenthede deur middel van pro-aktiewe beplanning en implementering aangespreek word, eerder as deur reaktiewe regstelling soos tans deur die Stellenbosch-munisipaliteit beplan word. Dis teleurstellend dat ons eers ‘n skrywe aan die provinsie moes rig, voordat die munisipaliteit dit nodig geag het om te reageer op die organisasie se skrywe. Ons sal alles moontlik doen om die reservaat te beskerm en oorweeg moontlike regsaksie in die aangeleentheid,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland.

Die Stellenbosch-munisipaliteit is gekontak vir kommentaar, maar geen kommentaar is ontvang nie.

Intussen is ‘n petisie begin teen die verandering van die grense van die reservaat. Indien jy bekommerd is oor die toekoms van die Papegaaiberg-natuurreservaat en ontevrede is met die huidige stand van sake, dan kan jy die aanlyn petisie invul.