– Bo: Olifantluise is tipies te vinde tussen die hare op ‘n dier se slurp, stert, onderlyf of rondom die oë. Foto: Engela Duvenage.

Engela Duvenhage

Om ’n luis op ’n olifant raak te sien, is beslis nie die maklikste ding op aarde nie! Daarom vra ’n bewaringskundige aan die Universiteit Stellenbosch (US) die hulp van veeartse en mense in die wildbedryf met die insameling van dié kleine insekte, sodat die nodige navorsing oor hul verskeidenheid gedoen kan word.

Volgens prof Sonja Matthee van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe is olifantluise (Haematomyzus elephantis) kleiner as 1 cm en donker van kleur. Tipies sal hulle te vinde wees tussen die hare op ‘n olifant se slurp, stert, onderlyf of rondom die oë. Dit maak hulle dus redelik moeilik om met die eerste oogopslag raak te sien.

“Die maklikste is om op die uitkyk te wees vir luiseiertjies, wat soos fyn waterdruppeltjies vassit op die dier se hare,” vertel sy.

So lyk die olifantluis waarvan navorsers reeds weet, die Haematomyzus elephantis, onder die vergrootglas. Dis minder as 1 cm groot. Foto: Wikipedia.

So lyk die olifantluis waarvan navorsers reeds weet, die Haematomyzus elephantis, onder die vergrootglas. Dis minder as 1 cm groot. Foto: Wikipedia.

Matthee vra dat mense wat met olifante werk wat byvoorbeeld verdoof word gedurende die verskuiwing van diere of mediese ondersoeke, ‘n oog sal oophou vir dié luise, en voorbeelde daarvan vir haar sal insamel en aanstuur.

Matthee is ‘n kenner op die gebied van vlooie, luise en ander parasitiese insekte wat op Suid-Afrikaanse wildlewe voorkom. Sy en haar studente bestudeer al die afgelope twintig jaar die verskeidenheid wat op enigiets van streepmuise tot pikkewyne voorkom. Verskillende soorte diere het elkeen hul eie soort vlooie en luise, vertel sy.

“Tans weet ons nog net van een luisspesie wat op beide Afrika en Asiatiese olifante voorkom. Ons wil kyk of dit wel die geval is, en of daar nie dalk nog is wat nog net altyd maar net misgekyk is nie,” vertel Matthee.

Sy pak die olifantstudie in samewerking met luiskenner prof Lance Durden van die Georgia Southern Universiteit in die VSA aan, met wie sy reeds sedert 2003 saamwerk. Medewerkers uit Australië en van die Hans Hoheisen Navorsingstasie in die Fakulteit Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria sal hulle daarin bystaan.

Gedurende Matthee en haar kollegas se studie sal voorbeelde van olifantluise wat ingesamel word geneties ontleed word. Die luise se uitwendige kenmerke sal ook deeglik bestudeer word, onder meer met behulp van elektronmikroskopie.

Olifantluise (Haematomyzus elephantis) behoort aan ‘n groep of suborde van drie luisspesies wat op soogdiere met sterk velle voorkom. Ook in dié suborde val vlakvarkluise (Haematomyzus hopkinsi) en Haematomyzus porci, ‘n spesie wat op ‘n soort wildevark uit die woude van midde-Afrika voorkom.