– Bo: Universiteit van Stellenbosch se Rooiplein.

Pulmonêre hipertensie (hoë bloeddruk in die longe) is ’n dodelike siekte wat sowat 75 miljoen mense wêreldwyd raak, waarvan sowat 80% in lae-inkomste- en middel-inkomste-lande (LMIL’s) woon. Dit is moeilik om die toestand in hierdie lande te behandel weens ’n gebrek aan toepaslike data en hulpbronne.

“Dit is duidelik dat inligting oor die siektelas en oorsake van pulmonêre hipertensie wat mense in LMIL’s raak, onvoldoende is, terwyl die inligting wat wel bestaan, grootliks uit ’n klein aantal gebiede bekom en miskien foutiewelik op die res geëkstrapoleer is,” sê dr Gerald Maarman van die Afdeling vir Geneeskundige Fisiologie en die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) by die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het saam met twee kollegas, dr Jane Shaw en prof Brian Allwood (van die Afdeling Respiratories), ’n ondersoek oor pulmonêre hipertensie in LMIL’s gedoen met die fokus op die algemeenste oorsake in hierdie streke en om lig te werp op van die kontekstuele uitdagings wat ondervind word.

Die ondersoek het onlangs in die Current Opinion in Pulmonary Medicine verskyn.

Volgens Maarman en sy medeskrywers word die vertraagde diagnosering van pulmonêre hipertensie reeds lankal as ’n aansienlike uitdaging gesien in LMIL’s met beperkte hulpbronne en ’n gebrek aan bewustheid oor hierdie toestand.

“Weens ’n gebrek aan bewustheid oor pulmonêre hipertensie in primêre gesondheidsorg en groot onderdiagnoses weens ’n gebrek aan hulpbronne, kom die siekte waarskynlik algemener voor as wat gereeld in literatuur aangedui word.

“Histories is die gebrek aan bewustheid as deelgenoot van kliniese nihilisme beskou, aangesien toepaslike behandelings óf nie beskikbaar was nie, óf baie duur was. Dit het geneeskundiges se belangstelling van pulmonêre hipertensie laat verskuif na ander toestande waar daar moontlik beter uitkomste is.”

Volgens die skrywers kom pulmonêre hipertensie in baie LMIL’s voor binne die konteks van kliniese dienste wat reeds onder die las van die hoë voorkoms van ander oordraagbare en nie-oordraagbare siektes gebuk gaan. Hulle wys daarop dat sommige van die algemene oorsake van pulmonêre hipertensie in LMIL’s MIV, bilharzia (’n akute en chroniese siekte wat deur wurmparasiete in die bloed veroorsaak word), hartversaking, chroniese longsiekte, bloedklonte in die longe en bloedsiektes is.

In Suid-Afrika neem die risiko van pulmonêre hipertensie toe weens die hoë voorkoms van MIV, bilharzia, TB en chroniese obstruktiewe longsiekte (’n chroniese inflammatoriese longsiekte wat meestal deur rook veroorsaak word).

“Al hierdie siektes kan pulmonêre hipertensie veroorsaak en gegewe die hoë voorkoms daarvan, is dit baie moontlik dat meer pasiënte pulmonêre hipertensie sal ontwikkel,” sê die skrywers. Hulle voeg by dat daar ongetwyfeld wêreldwyd baie ongediagnoseerde pasiënte is wat aan pulmonêre hipertensie ly, met agt uit tien gevalle wat na bewering in LMIL’s is.

Geleenthede
Ondanks die uitdagings wat met die diagnose en behandeling van pulmonêre hipertensie in LMIL’s gepaardgaan, is daar ook talle geleenthede.

Die skrywers voer aan dat “doeltreffende voorspraak moontlik bewustheid van en kliniese belangstelling in die siekte, veral onder klinikusse en navorsers in die primêre, sekondêre en tersiêre gesondheidsektore, kan verhoog. Dit kan die broodnodige denkverskuiwing na optimistiese denke veroorsaak wat die dryfkrag van gevestigde pulmonêre hipertensie-sentrums regoor die wêreld is.

“Daar is ook baie geleenthede vir navorsing, om aandrywers van die siekte in LMIL’s te definieer en te ondersoek, waar die siekte se unieke oorsake – wat ongewoon is in ontwikkelde lande – makliker en meer kostedoeltreffend bestudeer kan word.”

Hulle glo pragmatiese en moontlike nie-indringende diagnostiese en behandelingsalgoritmes kan voorgestel en getoets word in gebiede waar toegang tot ondersoeke beperk is. Dit kan dalk pasiënte se hindernisse tot toegang om behandeling verminder.

Hulle beklemtoon ook die behoefte aan ’n duideliker oorsig van die totale aantal gevalle van pulmonêre hipertensie (pasgediagnoseerd en bestaande) deur nasionale registers te gebruik en gereeld nasionale databasisse in LMIL’s te hersien.