– Bo: Hoërskool Stellenbosch van bo. Foto verskaf deur Hoërskool Stellenbosch.

Hoërskool Stellenbosch het onlangs op die akademiese en kulturele gebied uitgeblink, met prestasies in beide ‘n wiskundeolimpiade en die ATKV Tienertoneelkompetisie.

Algebra, trigonometrie en Pythagoras is woorde wat meeste van ons ver weg laat hardloop, of in koue sweet uitslaan. Vir Salmo Cilliers, ‘n matriekleerling van Hoërskool Stellenbosch, is dit egter kinderspeletjies.

Hy het vandeesweek vir die derde rondte van 2020 se Suid-Afrikaanse wiskundeolimpiade gekwalifiseer. Slegs die top 100 leerders vanuit die tweede rondte dring tot die finale derde rondte deur.

Salmo het al vroeg in sy skoolloopbaan met sy wiskundetalente gewoeker, en reeds in 2018 onder die top 10 van die Universiteit van Kaapstad-wiskundeolimpiade geëindig. Hy was ook in 2019 ‘n Netwerk24-finalis, en onder die top 20 in die Wes-Kaap.

Die finale rondte van vanjaar se nasionale Wiskundeolimpiade word op die 10de September 2020 gehou. Ons wens vir Salmo alle sterkte toe!

2020 het die gewilde, jaarlikse ATKV Tienertoneelkompetisie uitgedaag om ‘n nuwe formaat vir hierdie jaar aan te pak. Nuwe maniere van doen skrik egter geen Stellie af nie, en ons is uiters trots op ons vier leerders wat die nasionale top 20 in hierdie vooraanstaande kompetisie gehaal het.

Baie geluk aan Christiaan Bell (graad 12), Jeanne-Marié Koekemoer (graad 11), Anja Pieterse (graad 11) en Ninke Theron (graad 10)!