– Bo: Die Khi One-sonkragtoring naby Upington.

Engela Duvenhage

Dit is moontlik om die impak op voëllewe, wat gekonsentreerde sonkragtorings (sogenaamde CPS-torings) kan hê, laag te hou. Dit kan veral gedoen word deur die infrastruktuur goed te bestuur in die tye wanneer dit nie krag opwek nie. Só sê HP van Heerden, nadat hy navorsing hieroor gedoen het by die enigste gekonsentreerde sonkragtoring in Suid-Afrika.

Van Heerden se studie was die eerste om op die voëllewe rondom die Khi Solar One-fasiliteit naby Upington in die Noord-Kaap te fokus. Hy het vroeër vanjaar sy MSc in Bewaringsekologie, aan die Universiteit Stellenbosch, vir sy werk ontvang.Van Heerden se studie was die eerste om op die voëllewe rondom die Khi Solar One-fasiliteit naby Upington in die Noord-Kaap te fokus. Hy het vroeër vanjaar sy MSc in Bewaringsekologie, aan die Universiteit Stellenbosch, vir sy werk ontvang.

Van Heerden se veldwerk het gewys dat die sonkragtoring, wel ‘n invloed op die tipiese voëllewe het, wat gedurende die jaar of seisoenaal in die omgewing voorkom, maar dat dit kleiner is as wat verwag is. Verskeie spesies maak hul tuiste in en om die fasiliteit.

“Wanneer opsies rondom hernubare energie oorweeg word, moet die voor- en nadele daarvan op die omgewing, en die impak wat dit op plante en diere kan hê, altyd oorweeg word,” verduidelik Van Heerden die rasionaal agter die studie.

Veldwerk
Van Heerden se studie is gebaseer op soortgelyke navorsing wat al in die VSA en Spanje gedoen is. Hy het waarnemings gemaak op die sonkragtoringterrein van 315 hektaar, asook op die aangrensende, oop veld. Die studiegebied staan te midde van tipiese Nama Karoo-veld, in ‘n gebied wat ongeveer 150 mm reën per jaar kry.

Gedurende twee seisoene het hy telling gehou van alle voëlspesies in sig:

  • altesaam 57 verskillende spesies
  • 2380 individuele voëls
  • 49 spesies in die winter, waarvan nie een van bewaringsbelang was nie.
  • Edelvalke was die enigste voëls van bewaringsbelang wat in die somer opgemerk is.
  • Meer spesies (53 teen 45) is in die aangrensende veld waargeneem as rondom die sonkragtoringterrein self.
  • Behalwe vir witborskraaie, kolganse en korhane het die meeste spesies nie meer as 10 m hoog gevlieg nie.
  • Voëls was minder geneig om op die terrein en om die geboue self te broei. Vier groepe versamelvoëls, twee duifspesies, ‘n kelkiewyn en ‘n fiskaallaksman, het wel daar nes gemaak.

Die oprigting van die sontoring het ‘n invloed gehad op die samestelling van voëlspesies wat tipies in die omgewing voorkom. Verdampingsdamme het watervoëls, soos flaminke gelok, wat nie tipies tot die plaas is waarop dit opgerig is nie. Spesies wat in struike en woude hou, asook soorte wat tipies in voorstedelike tuine gevind sal word, kom deesdae in groter getalle op die terrein voor as in die aangrensende veld.

Impak
Gedurende sy opname het Van Heerden ook ‘n oog gehou op voëls wat dalk beseer of gevrek het:

  • 324 beseerde of noodlottig beseerde voëls (wat 34 spesies verteenwoordig) is rondom die groter terrein aangeteken.
  • Hiervan is 285 in die heliostat-gebied die (sogenaamde sonveld) opgemerk, en die res rondom die kragopwekkingseenheid en die verdampingsdamme.
  • 61% van voorvalle is weens botsings teen die strukture, terwyl 14 % geskroei het.
  • Die meeste dooie voëls was saadvretende, inheemse spesies soos rooibekkwelea, vaalstreepkoppies en rooikopvinke.
  • Behalwe vir een edelvalk en een wit pelikaan het geen voëls van bewaringsbelang gevrek nie.
  • Opgestelde kameras het gewys dat dooie voëls deur witborskraaie, silwerjakkalse en witkwasmuishonde gevreet word.

“Die meeste voëls het teen strukture gebots in die omgewing waar die vrystaande heliostate staan, en meestal teen die onderste kwart van hierdie strukture, ongeveer 3,2 m bo die grond. Dit sluit die onderste twee panele van elke heliostaat in,” het Van Heerden verduidelik. “Dit is omtrent die normale vlieghoogte van voëls soos rooikopvinke en vaalstreepkoppies.”

Die meeste voorvalle het vroegoggend of rondom sononder plaasgevind, wanneer voëls die aktiefste is.

Van Heerden neem aan dat die botsings moontlik plaasvind omdat die heliostate tydens sonop en sononder teen ‘n 90-grade vertikale posisie staan. “Dit skep die illusie van ‘n ononderbroke landskap en kan die voëls heeltemal verwar,” reken hy.

Migrerende voëls of spesies wat hul prooi in die lug jag is meestal gedurende die somermaande geskroei deur die sogenaamde “solar flux” of gekonsentreerde sonligstraal (kan tot 800 grade Celcius wees) wat vanaf die heliostate tot verby die sentrale ontvanger skyn.

“Die skerp lig wat uitgestraal word vanaf die torings se spieëls kan insekte lok, en in die proses ook insekvretende voëls,” vertel Van Heerden verder. “Wanneer iets soos ‘n bewegende voël dalk deur die ‘solar flux’ vlieg, skroei dit omdat die sonlig vanaf die heliostate teen iets bots, en dan na termiese energie omgeskakel word.”

Die meeste sulke gevalle is waargeneem gedurende ‘n tyd toe die heliostate weens tegniese probleme nie in gebruik was nie. Die heliostate is toe in die bystandsposisie gerig, wat ‘n soort stralekranseffek en verskroeiing (“solar flux”) in die lug bo die toring tot gevolg gehad het.

Die bestuur van insidente
Oor sommige mediaberigte uit die VSA dat tot een voël per minuut (wat dus tot 28,000 voëls per jaar sou beloop) weens die impak van sonkragtorings kan vrek, het Van Heerden gesê: “My bevindings ondersteun nie sulke beweringe nie. Ek reken dis eerder gebaseer op mense se aannames as op werklike goeie data.”

“Data afkomstig uit die studie in die Noord-Kaap ondersteun nie sulke berigte nie,” stem prof Karen Esler, een van Van Heerden se studieleiers en voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, saam. “Vir perspektief oor die werklike impak van sonkragtorings moet ‘n mens voëlsterftes rondom die terrein vergelyk met dié wat veroorsaak word deur ander menslike aktiwiteite in die omgewing, soos boerdery, mynbou of die padnetwerk.”

In ‘n studie wat in 2014 gedoen is, word geraam dat tussen 98 miljoen en 980 miljoen voëls jaarliks in die VSA sterf nadat hulle in geboue of vensters bots. Daarvolgens word tot 3,7 miljard deur katte gevang, en tussen 89 miljoen en 340 miljoen sterf weens verkeersverwante voorvalle.

“’n Mate van impak deur sonkragtorings op die omgewing is byna onvermydelik, maar kan tot die minimum beperk word as dit reg bestuur word,” reken Van Heerden.

Daarom het hy die volgende aanbeveel vir die bestuurders van soortgelyke fasiliteite:

  • Heliostate moet nie net voor sonop en net na sonsondergang teen presies 90 grade geposisioneer word nie.
  • Die intensiteit van die gekonsentreerde energie of “solar flux” wat bokant die sontoring uitstraal kan verminder word wanneer die heliostate in die bystandsposisie is en nie in werking is nie.
  • Die heliostate kan eerder in ‘n horisontale posisie gestel word wanneer sonenergie nie deur die sontoring opgewek word nie.