Danie Keet

Septembermaand is Erfenismaand. Teen hierdie tyd het Stellenbosch en die omringende dorpies al vere reggeskud vir ‘n vol program ter viering van die dorp se ryk kultuurerfenis.

Die Covid-19 pandemie het byna ‘n demper geplaas op vanjaar se verrigtinge, maar getroue ondersteuners het verras met die blink idee vir ‘n virtuele Erfenis-viering.

“Getrou aan ons dorpsbewoners se pioniersdrif en innovasie-vermoëns, word Erfenismaand dus op besonderse wyse gedenk. Ons gaan ‘n peiling onder inwoners doen om te bepaal watter bates e’Bosch kan gebruik om die dorp en sy omgewing se erfenis behoorlik te vier en in stand te hou,” sê Carol Lakay, e’Bosch se kommunikasiehoof.

Deur aan hierdie opname deel te neem, kan drie gelukkige pryswenners elkeen wegloop met ‘n R500-geskenkbewys, geborg deur Eikeboom Slagtery, Stellenbosch se oudste tradisionele slagtery.

Die peiling het ten doel:           

  • Om kulturele bates in die onderskeie dorpies vas te lê om kulturele sterkpunte te karteer
  • Om unieke verkoopspunte in elk van die dorpies te identifiseer (voorbeeld: die aarbeifees in Jamestown bou voort op sy landbou-erfenis)
  • Om gemeenskaplike belangstellings, talent en vaardighede te groepeer in belangegroepe (o.a. uitvoerende kunste, kookkuns, storievertelling, kuns en kunsvlyt)
  • Om belangrike rolspelers en beïnvloeders te identifiseer om e’Bosch in elk van die gemeenskappe of dorpies te verteenwoordig.

Maak nou so: Inwoners vanaf die ouderdom 18-jaar kan deelneem, maar elke deelnemer mag slegs een inskrywing instuur. Stuur jou naam en gemeenskap via Whatsapp na e’Bosch se kommunikasiehoof, Carol Lakay, voor of op 15 September. Ontvang en voltooi die maklike Whatsapp-meningspeiling voor 20 September en die wenners word op 23 September aangekondig – betyds om ‘n vleispakkie by Eikeboom-slagtery af te haal vir braai op Erfenisdag.

Vir verdere navrae skakel asseblief vir Ann by 081 017 0077 of Whatsapp vir Carol by 061 595 4085 of per e-posboodskap by carol@ebosch.co.za.