– Bo: Die Wilcocks-gebou. Foto: Francois Lombard.

Hilton Biscombe

Naamgewing – dit bly maar ‘n gejôdel in die wind, veral vir groot instansies as politiek-draagbare name, soos ‘n etiket of ‘n swaarbelaaide pistool wat alles voor sy aangesig in sy maai wil skiet. Miskien sal ‘n bulderende kanon wat oorlogsbesaaide klanke oor lyke uit die verlede bulder ‘n nog beter beeld wees, want dis hoe sommige nog wil dra aan die verlede.

Neem nou die onlangse geval van die Wilcocks-gebou wat maar slegte en goeie memories vir my inhou. Die goeie was dat dit my in die goeie geselskap van ‘n professor gebring het wat my kon leer wat passie vir sy vakgebied is, soveel te meer so dat dit uitgeloop het op ‘n goeie vriendskap. Maar daar is meer, want dit was hier waar die boek oor my eerstydse woonplek sy beslag gekry het. Dis ook hier waar ek geleentheid kon kry om met studente te praat oor Die Vlakte, eertydse woongebied van die bruin mense in Stellenbosch.

Die slegte is maar altyd vasgevang in die kloue van die apartheidsmonster, waar ‘n ouballie met sy gryse lang baard, soos dit ‘n goeie Voortrekker betaam, met sy lang voorlaaier ons as laaities op hierdie einste stoep, in ‘n emse kalemsa skrik op die lyf gejaag het, omdat hierdie gebou se stoep slegs vir witmense was. Terloops, ek hou nie van die naam blank nie… dis so onbenullig soos ‘n blank tjek sonder ‘n handtekening.

Meer modern was toe die US in hierdie einste gebou, ‘n uitstalling of installasie oor die Slag van Andringastraat verwyder het om plek te maak vir die universiteit se honderdjarige bestaan. Nee, die een is nie soos die ander nie en het alreeds gekrenkte gemoedens die josie in gejaag.

Nou, met die naamgewing van hierdie gebou, loop dit ook op so ‘n manier dat dit wonde uit die verlede wil heel. Maar hoe gemaak as name, al is dit groot name uit ons geskiededenis wat ons wil eer, as ons gebedseltjies na die hemele stuur, asof die antwoorde in die bloue lug lê.

As u dink dat ek te subjektief skryf, is u 120% korrek, maar dit mag tog tot voordeel strek as subjektiwiteit lei tot objektiwiteit. Onthou, my bloed loop dik as ek alles in oënskou neem en ‘n ware verskynsel as jy die moeite doen om die kaf van die koring te skei. Dis soos om met flitslig in donker hoekies op spinnerakke te skyn, maar jy kan dit net doen deur die flitslig aan te skakel met jouself as bron. Jy moet net die flitslig met batterye laai en die knoppie druk.

Daar is geen twyfel dat wat ek hier skryf, intellektuele of akademiese debatte kan uitlok. Yes, that’s okay, maar dan moet ons ook verneem van die ware feite oor hierdie straat en gebou uit die monde van die eertydse inwoners van hierdie gebied.

Jy kan ook vroteier speel (ek’s seker jy ken die speletjie), waar jy al jou sintuie gespits hou, om te wil weet waar die vrot eier is! So, nou, hier, op hierdie oomblik, beweeg weg uit jou dop en sien dat name eintlik verganklik is.

Net soos ek nou myself wil ophang aan ‘n naam, is alles maar wors, soos Trompie sal sê, as ek dink aan die verlede waar my vergete gemeenskap gebly het.

Soos die vlees stadig begin wegval, neem die gees oor en spil gemoedsbelaaide woorde wat so oud soos die berge oor Stellenbosch wil brul dat alles goed in God se hande is, selfs, ‘n naam.
Maar hoe nou gemaak, as name rondgegooi word asof dit dobbelstene is? Ja, beslis, daar’s persoonlikhede uit die verlede wat erkenning moet kry. Dit kan ons nie dispuut nie. Maar wragtig, dan moet ek seker vir Misters T, B, en C uit die grafte gaan haal om ‘n kruise agter Jan Snot se naam te maak, want net soos hy, is daar menig ander wat hul stempel op ‘n gemeenskap geplaas het en ‘n naamgewing verdien.

Maar nouja, wie sal dit wees? Hoekom moet politiek altyd ingesleep word? It is very comfortable and easy to pull a name out of the political hat. A blast from te past, wat ons net met skurwe kniekoppe in die toekoms gaan laat as daar iewers ‘n nuwe rektor, wie se politieke oortuiging “reg” is, aangestel word.

Iemand het met die regverdiging van ‘n voorstel vir ‘n naam om die gebou nader aan Die Vlakte liewers erkenning te gee. Maar die prentjie verander heeltemal as ons verneem dat Die Vlakte nie net beperk was tot ‘n bepaalde gebied nie, maar word gedra deur die eertydse inwoners wat nou so ver as Kanada bly. Dit strike my nou net waarop Adam Small sinspeel as hy sy hoofkarakter in sy bekende toneelstuk Kanna noem, maar dit daar gelaat.

Die Vlakte was meer as ‘n fisiese plek wat nou neerslag vind in die gemoedens van eertydse bewoners en word gedra deur almal wat streef na vryheid.

Die vraag bly egter, is ons daarvan oortuig om hierdie saadjie lewendig te hou deur die voortplanting van idees oor vryheid wat nie in die naam van ‘n persoon opgesluit is nie?

Eendag sal ek baie trots kan vertel van ‘n gebou se naam wat in regverdigheid gebore was, maar dit vra die moed van jou oortuiging, waarvan daar miljoene emmers vol vars water vir dorstige siele is wat smag na hierdie losmaak van beperkinge wat eintlik maar deur onsself onder die grendel geplaas word, mits ons bereid is om die long walk to freedom te neem.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.