Bo: Oom Samie se Winkel. Foto: Jané Bean.

Lia Snijman

Oom Samie se Winkel is hard getref deur die verlies aan toeriste tydens die grendeltyd, maar is reg om meer plaaslike voete na hul winkel te lok met hul nuwe opwipwinkel.

Op Donderdag 17 September, vanaf 10:00 tot 18:00, gaan nie net hul eie produkte te koop wees nie, maar ook klere, vars kosprodukte en vars blomme. Boonop gaan daar ook ‘n wynproe aan die gang wees. Al hierdie produkte kom ook van plaaslike besighede af.

Die opwipwinkel is deur hul sosiale bemarkingspan, Duidelik Digital, voorgestel om hierdie nasionale monument meer aanloklik te maak vir plaaslike inwoners. Hulle sê dat hul nou eers die waters gaan toets, maar dat daar “reeds lekker belangstelling” is.

“Mense moet local ondersteun omdat die gemeenskap juis baat deur ’n verskeidenheid van klein individuele winkels (teenoor groot ketting-groepe waar alles dieselfde lyk),” meen hulle.

Oom Samie se Winkel sê dat aangesien hul grootste mark toeriste van ander dorpe en die buiteland is, het hulle “regtig nogal erg in die slag geval” toe reis heeltemal verbied is.

Hulle herinner inwoners daaraan om asseblief hul maskers te onthou wanneer hulle die opwipwinkel besoek.