Bo: Hoër Meisieskool Bloemhof.

’n Nuwe vennootskap tussen die Lane Leader-swemakademie en die Hoër Meisieskool Bloemhof beloof om “soos ’n vis in water” te wees en die swemprogram en -profiel te verhoog, nie net by Bloemhof nie, maar ook in Stellenbosch as geheel. Hiermee saam word die opgradering van die swembad in die vooruitsig gestel wat verhitting en onderdak wintergeriewe insluit.

Dié samewerkingsooreenkoms bring die beste van swem, in die vorm van Lane Leader en Speedo, na een van die voorste meisieskole in Suid-Afrika. Die Lane Leader-afrigtingspan, onder leiding van die Olimpiese afrigter Pierre de Roubaix en Keith Jansen, spog met meer as 40 jaar se ervaring tussen die twee van hulle. 

As ’n vlak 4-meesterafrigter beskik De Roubaix oor die hoogste afrigtingskwalifikasie in Suid-Afrika. Hy het reeds verskeie Olimpiese en Paralimpiese swemmers tot groot suksesse gelei, onder meer as medaljewenners by junior wêreldkampioenskappe, die Statebondspele en Paralimpiese Spele.

Lane Leader is nie net toegespits op hoë prestasie-afrigting nie, maar bied uitgebreide ervaring as dit by atleetontwikkelling kom. Swem as oefening vir ’n gesonde lewenstyl en as deel van multi-sportdissipline kom ook onder die loep.

Pierre de Roubaix. Foto: Stephan Meyer.

Pierre de Roubaix. Foto: Stephan Meyer.

“Ons langtermyndoelwit is die ontwikkeling van atlete deur veral jong swemmers na die hoërskool- en seniorprogramme te bring,” sê De Roubaix.

“Ons vennootskap met Lane Leader bied nuwe diepte in terme van afrigting en toewyding aan Bloemhof se swemprogram,” sê Jenny King, sportbestuurder (hoë prestasie sport en –beplanning) by Bloemhof.

“Pierre en sy Lane Leader-afrigters bied internasionale kundigheid en ons is baie opgewonde oor die nuwe rigting waarin ons swem as skoolsportsoort wil neem.”

Uiteindelik is dit nie net een skool nie, maar die groter gemeenskap wat by Lane Leader kan baat, aldus De Roubaix.

– Hoër Meisieskool Bloemhof