Bo: Malene Breytenbach.

Lia Snijman

Malene Breytenbach, die Stellenbosse skrywer, het onlangs haar nuutste roman, Verdiende Wraak, gepubliseer. Hierdie werk van historiese fiksie is haar negende roman.

Die boek is opgedeel in twee gedeeltes. Die eerste deel handel oor die Anglo-Boereoorlog, oftewel die Suid-Afrikaanse oorlog, met die sogenaamde Judasboere wat die bittereinders verraai. ‘n Jong man word tereggestel wat lei tot ‘n bakleiery tussen twee families en, op die ou end, moord. Buiten dit word die konsentrasiekampe en gestroopte plase ook beskryf soos wat ‘n jong getroude vrou dit ondervind. ‘n Engelsman bied sy hulp aan vir haar.

Die tweede gedeelte speel af in die 1980’s met ‘n boek wat gepubliseer word oor hensoppers en joiners tydens die oorlog. Nasate van die een familie uit die eerste gedeelte van die roman is gegrief. Een van die familielede, ‘n lid van die AWB, besluit om wraak te neem op die skrywer wat hulle familieskande openbaar gemaak het.

“Dit is fiksie, maar heelwat is gebaseer op my man se familiegeskiedenis. Sy mense het naby Ermelo geboer en was in die Boereoorlog betrokke. Die eerste deel speel af tydens en net na die oorlog. Die tweede deel speel af in die tagtigerjare. Ek het baie navorsing gedoen om my feite korrek te hou. Heelwat is darem my verbeelding,” vertel Breytenbach.

“Die Boereoorlog het my nog altyd gefassineer. Dit is ’n wonderlike bron van stories,” sê sy.

Verdiende Wraak se voorblad.

Verdiende Wraak se voorblad.

Alhoewel Breytenbach baie belangstel in die politiek en dit beskryf as “geskiedenis-in-wording”, verduidelik sy hoe die hedendaagse politiek nie haar roman beïnvloed het nie, want dit speel “te ver in die verlede af”.

Breytenbach het al op vele plekke gebly – sy is in Port Shepstone in KwaZulu-Natal gebore, het geëmigreer met haar ouers na Zimbabwe en toe verhuis na Pretoria waar sy uiteindelik aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer het. Sy het by die Universiteit van Pretoria haar BA en honneurs graad in Engels behaal. Sy het daarna as ‘n vertaler en beëdigde vertaler gewerk.

Sy bly egter al sedert 1985 in Stellenbosch, met haar man en dogter wat saam verhuis het. Sy het by die Universiteit Stellenbosch (US) haar grade honneurs, magister en D.Phil in Joernalistiek behaal, sowel as ’n MA vir Ou Nabye Oosterse Studie en ‘n M.Phil in Antieke Studies. Vanaf 1990 tot 2008 het sy aan die US gewerk in Openbare Betrekkinge, Kommunikasie en die Stellenbosch Stigting.

Breytenbach sê sy het haar skryfvaardigheid ontwikkel deur haar studies in die letterkunde, joernalistiek en dies meer. Nou skryf sy voltyds en het al nege romans en vele tydskrifkortverhale geskryf. “Ek het net besluit om my verbeelding ook te gebruik, van my verhale op my studies te baseer, en toe ek sien, kry ek momentum en skryf die een na die ander,” vertel sy van haar keuse om voltyds te skryf.

Sy sê Stellenbosch is vir haar die plek waar sy “moes kom nesskop”. Sy noem hoe sy al verskeie van haar verhale in Stellenbosch geplaas het en dat sy dit ‘n inspirerende plek vind. Haar enigste klagte is een wat alle inwoners ken – erge verkeer.

Breytenbach laat nie op haar wag nie en is reeds besig met haar volgende roman. “Sodra ’n manuskrip na die uitgewer gaan vir keuring en publikasie, beplan ek al die volgende een.”

Verdiende Wraak is beskikbaar teen R265 en word deur die onafhanklike publiseerders Minimal Press vrygestel.