Bo: Perde besig om ‘n perdekar te trek.

– Hilton Biscombe

Erfenis kan ‘n seer storie wees. Dit hang af van watter hoek jy dit betree.

My eintlike helingsproses het begin toe ek besluit het om die bul by die horings te pak deur ‘n boek te skryf met die vergete stem van die gemeenskap as fokus. Hoe dan anders, as ek onder hierdie sterreteken gebore is, waar jy as bul maar steeks kan wees, nou nie soos ‘n donkie nie, maar soos ‘n bul wie se kapaters verwyder moes word weens sy woeligheid.

Bloed vloei, maar waar water nie kan nie. Water as element sal jou hart oorstroom, maar bloed sal sy eie ritme in oorleg met ‘n hart vind wat heelwat warmer klop, veral as jy skryf oor jou geboorteplek.

Laat my dus toe om aan u ‘n paar karakters voor te stel, wat ewe braaf langs die kantlyn hul ding gedoen het. So stroomop, from the outside looking in. Ons kan maklik skryf oor onderwysers en skoolhoofde en predikante en al daai snare, maar wat van die gewone ou wat jy in die hel geplaas het om aan die linkerkant van die duiwel te sit as hy nie conform en perform het soos die gemeenskap dit wil hê nie.

Hulle verdien ‘n plek in die erfenis-anale, al laat dit ons effens ongemaklik voel.

Hulle staan altyd met hul eie sak vol stories wat baie goed by erfenismaand pas, omdat dit jou lagspiere kan prikkel and your lust for life kan beaam. Dit hoef nooit somber te wees nie. Dit hoef ook nooit in ‘n geskiedenisboek opgeskryf te word nie, want geskiedenis word maar altyd uit die perspektief van die “oorwinnaar” geskryf. Die “oorwinnaar” van wat? Dit sal ek nou nie kan sê nie as ek moet waarneem hoe die destydse inwoners met liefde en warmte hul stories nou nog vertel.

Die hart kan nie lieg nie! En nog minder jy, as jy gestand doen aan jou eie erfenis wat nie net bloot ‘n kopding is nie, maar in die ope boek van jou hart, waarop jy trots kan skryf, soos nou…

Baie het alreeds Die Vlakte-geskiedenis tot perkament verklaar of beter gestel, as stukkies koerantpapier in toeka se tyd wat sou dien as toiletpapier waarmee jy jouself maklik kon verneuk met jou grootste en langste vinger… Sies!

Om Engels en Afrikaans sommer so vermeng te skryf, mag die preutse onder ons aanstoot gee, maar die gees van my erfenis is spontaan. Dit wat in jou mond kom, word as’t ware uitgespuug soos die lekker soor en soet suurklontjies, solank jy net jou sê kan sê!

Daar was Hennie Bal, die groentesmous wat met sy two-seater perdekar en bruin vosperde die hele wêreld vol loop en poep het. Hy was ‘n groot man. As jy jou verbeelding laat gaan, vergelyk hy goed met die reus in die storie van Djannie innie Boentjierank.

Sy perde het mos die gecoverde gebied wat bykans oor die hele Vlakte was, vol geskyt. Was glo taamlik loslywig, seker maar senuwees wat gepla het as Hennie met ‘n skerp en indringende jôdelstem skreeu dat almal sy vrugte en groente moet kom koop.

Plek-plek sal hy sommer met hierdie selfde groot stem uitbasuin van een of ander funksie op Die Vlakte: “Warm pasteie tien sent te koop by Tante Eva se huis !”

Okei, miskien nou nie in sulke suiwer Afrikaans nie. “Hot pies te koep vir ten cents by Auntie Iewa se hys! ” ‘n Lewendige advertisement sonder fieterjasies en aanstellerigheid!

Maar Hennie was ook stylish. Nou nie stylish in die sin dat sy klere netjies gesit het en dat hy voor vir sy tyd was of die latest fashion gedra het nie. Miskien sal kleurvol die regte woord wees, want Bal sou elke dag ‘n kleurvolle oversize hemp oor sy groot maag, of sy toolshed soos hy daarna verwys, dra.

In die somer egter was ‘n groot wit gaatjie- of sif-frokkie, maar die choice; hy sou vir die afwesigheid van ‘n hemp vergoed deur ‘n swart rondebol hoed met ‘n paar gespikkelde makouvere in die omgebinde rand van die hoed te dra.

Hy moes compromise met hierdie frokkie, want dit kon vrek warm raak, behalwe vir die duiwel se vuur self, natuurlik, op Die Vlakte, veral as hy plek moet maak vir familie wat somtyds saam wil ry. Dan moes hy noodgedwonge langs die wa ‘n bietjie vinniger stap. Warm en be-bodderd of beter gestel hot en bedonnerd met sy groot lyf en ronde wange wat sal dril soos iemand wat té veel brood, rys en soesys geëet het, moes hy maar geduldig draf-stap en stap-draf vir sy familie se plesier.

“Donnerse family,” het hy met die grootste liefde onder sy asem soos een van sy fier perde geblaas. Tog het jy die gevoel van ‘n Boedda-laggie oor sy bolwange gekry.

Ek sien nog hoe Floors met sy verslete wit jassie, groen ge-gabadene broekie, wat hy met ‘n tou of polka-gedotte tie vasgemaak het, anders sak dit af, agter die wa met ‘n sinkskoppie in die hand, hardloop.

Sy lang straight, grys hare het so oor sy voorkop soos ‘n witman s’n gehang. Kompleet Gregory Peck of Richard Widmark. Die gesig was net meer verimpeld soos ‘n opgekrimpte prune, ontwater van al die drank. Sy job was om die droppings van Hennie se perde wat soos bomme uit hul gatte kan val, op te tel.

Dit was mos belangrik vir hom om dit te doen anders was Hennie Bal in groot moeilikhed by die sogenaamde stadsvaders oor die stink en liederigheid daarvan.

Boonop het hy ook groot respek vir wit mense gehad. Daarom het hy vir Floors tien sent belowe vir elke poefsel wat hy optel wat sou help om later een hele bottel wyn by die A1 Bottle Store in Andringastraat, te koop, anders as die dae as perd se klong sagte plate drop wat nou nie juis telbaar is nie, moes hy maar met ‘n gemiddelde bedraggie regkom.

Met die volgende skrywe mag u aanstoot neem, maar die sensor is al lankal ‘n verby-storie, behalwe as u ‘n Ombudsman is wat toesien dat jy nie die vlak van onordelikheid betree nie.

Die Vlakte sou egter nooit spesifiek soos Distrik Ses in die Kaap daar uitgesien het as dit nie vir die ou roekers van hierdie gebied was nie. Bygesê was hierdie dôp-area se geboue meer netjies met baie meer groenigheid danksy die akkerbome wat van Holland af ingevoer is.

Maar dis ‘n aside wat nie eintlik van toepassing op hierdie skarremonkies was nie. Hul tuiste was maar net daar waar hulle hulself bevind het. ’n Wherever-I-lay-my-hat, sort of attitude or thing.

Hulle vernaamste job in die lewe was om te dowwel, dagga te roek, great numbers te sing en kommentaar te lewer as jy verby hulle, veral die dag as jy met ‘n nuwe suit, ewe pronkerig, pas afgerond deur ‘n local tailor, wat altyd maar ‘n Babbie was, stap.

Hulle sou jou dan ‘n kaat met ‘n sting in die tail skiet.

“Kwaai lappies, kak tailor!” wat beteken dat die suit uit ‘n hoë gehalte materiaal bestaan, maar dat die tailor dit opgemors het. Wat dit egter lagwekkend en ironies sou maak was dat hulle die sêstukkie bykans elke keer sou gebruik as hulle mekaar, ten koste van hulself, groet.

Dan sou een slim, jaloerse kalant ook die saying met vele gelag omdraai en skree: “Kwaai tailor, kak lappies!”.

Uit hul geledere was daar ook ‘n character wat gereageer het op twee name, albei vertalings van mekaar. Klip omdat dit sou voorkom asof hy ‘n harde kop gehad het wat “oorlogswonde” getoon het, en Stone as hy die dag lekker geroek is. Die een sou ‘n Afrikaanse reaksie uitlok: “Klip!”en dan “Ja, my basie”. Ook in Engels: “Stone!” en dan “Yes,my master,” an English response. ‘n Vollende bilingual karnallie.

Ek moet admit dat hy presies geweet het hoe om die dice vir jou te gooi. Sy reaksie sou altyd ‘n gunstige response uitlok as hy presies in watter taal hy iemand moet aanspreek waar hy dan ‘n paar sente los slaan wat hy later sou gebruik om saam met die ander ouens te kazat vir ‘n rowwe dite of stopsel boem of bottel wyn of sommer net gewoonweg dowwel vir die jackpot wat hom dan later met heelwat self-esteem en talle bottels wyn vir al sy tjommies, die gode sal bedank vir die geluk.

As u nie heeltemal bogenoemde verstaan nie, het ek nie daarin kon slaag om die gees van die tyd aan jou oor te dra nie, maar soos hulle, die skarremonkies, in “goeie” Afrikaans sou sê, “Djy’s fokkien ô-nooslik, djou myshond.”

Maar dit bring my by die punt dat ons almal nie altyd die erfenis agtergrond van mekaar ken nie, maar tog verryk dit ons met ons kennisname as ons luister na ander se stories. Om dit te kan doen, moet ons ‘n platform daarvoor skep, soos nou in hierdie lugkoerant.

Ja, dit bly maar ‘n vars storie, as Hennie Bal, en andere by jou spook om hul stories te vertel, veral in hierdie maand, waar ek die laaste koppie cocoa in hierdie bibber nou drink, ten spyte van my beef as hierdie jaar se maand heelwat anders as verlede jaar s’n is. Dit laat jou wonder oor die verganklikheid van alle lewe… en seker ook maar jou eie s’n vir die veranderde natuur van erfenis, saam met jou memory, die ewigheid in!

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.