Bo: ‘n Bietjie lig vanaf ‘n gloeilamp in die donker.

– Cornelia de Kock

“Hy het die aard’ en hemel geskep aan die begin.
Hy laat ons oor die lewe vanuit sy Woord besin.
Waneer ons denke doodloop
en ons nie verder weet
as ons verval in wanhoop…”

Grendeltyd word die tyd van wanhoop. Berigte van selfdood bereik daagliks ’n mens se ore. In die Noord-Oos Vrystaat neem ’n twaalfjarige seun wat die slagoffer van boelies was, sy eie lewe.

Mense raak vermis om later iewers dood aangetref te word. Busse en buitebande brand. Boere sterf op plase. Die VSA se BLM eggo wêreldwyd.

Mense verloor die hoop dat dinge ooit weer normaal sal wees. Hoe gaan ’n nuwe normaal in elk geval lyk?

Elsa Joubert rig ’n versoek dat bejaardes tog asseblief hul geliefdes mag sien. Voor haar versoek toegestaan kon word, sterf sy alleen in hospitaal. Dit is die lot van baie oumense wat moedersielalleen sterf – sonder enige geliefde om hul hande vas te hou.

Augustusmaand is Vrouemaand. Geweld teen vroue en kinders word onder die soeklig geplaas. Terwyl optogte oor hierdie kwessie plaasvind, word nog vrouelyke in oop velde gevind.

Die President doen oproepe dat vroue met respek behandel moet word en hy filosofeer oor vroue se rol in die ekonomie, maar mans lig nog steeds hul hand teen vroue en klein dogtertjies en jong meisies word verkrag.

Die hoop beskaam.

Op 25 Julie 1950 het die agtjarige Klara Majola van Ceres verdwaal en verkluim toe sy in die donker, in sneeuweer, na haar blinde pa, Lemmie, gaan soek het. Haar pa het met die vuurmaakhout teruggekom – Klara se lyk is eers die volgende dag gevind.

Dirk Opperman het haar heldhafige poging so beskryf:
“Maar nooit sal ek,
in die Bokkeveld
So warm soos jy, Klara Majola verkluim”.

Later in die lewe sou Lemmie opmerk: “Nou nog, sodra dit begin kapok, gaan my hart aan die hardloop. Dan kan ek nie meer dink nie.”

Dwarsoor Suid-Afrika het mense se harte hierdie Augustus op loop gesit en het hul denke opgehou.

Ses kindertjies, ook van Ceres, sterf sewentig jaar later ’n voortydige vlammedood nog voor hul enige heldedade kon verrig. Baie Stellenbossers is familie van die slagoffers of het vriendskapsverhoudinge met hulle.

Van die houthuis by Blinkwater het net ’n puinhoop oorgebly. Die water by Blinkwater het alle glans verloor. Ses kinderstemme het stil geword. Drie pa’s en en een ma sal nooit weer hul ouerlike pligte kan nakom nie.

Drie kruise word langs die “lodge” (tuiste of skuilplek in Afrikaans) in die grond geplant. Nee, dis nie kruise onder die hemelboog op die koppie nie. Dit is monumente, ook nie gedenktekens nie, want dit is verlede tyd. Hier word hooptekens vir ’n beter toekoms opgerig.

Frans Davin, Stefan Bauer en Hendri Carstens is Vrouemaand 2020 se helde. Hulle het aan elke man in Suid-Afrika gewys wat manlikheid regtig beteken. Hulle het hul lewens letterlik op die altaar geplaas ter wille van hul vroue en kinders.

“Hulle is die balsem vir herstel van die wonde. Hul is die sagte salf vir die mense met hul seer. Hul gee lig vir die nasie en hul bied troos. Deur hulle vloei daar nuwe hoop.”

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.