Bo: Bloekomstraat in Idasvallei. Foto: Francois Lombard.

– Pietman Retief

September is Erfenismaand en in Stellenbosch word die maand op verskeie maniere benut. Seker die belangrikste is e’Bosch se beklemtoning van verskeie erfenis-aspekte in Stellenbosch en sy “dorpies”. Idasvallei is een van hierdie “dorpies” en beslis die oudste.

Ons weet nie waar die naam Ida vandaan kom nie, maar daar is geen bevestiging dat ‘n dame met die naam Ida in die 17de eeu daar gewoon het nie. ‘n Gewilde storie dat sy Simon van der Stel se geselskapsdame was, kon nog nooit bewys word nie.

Die vallei het drie ander plase gehad, naamlik Nazareth, Schoongesicht en Rustenberg, en in 1682 is Idasvallei toegeken aan die Hugenoot Francois Villion, wat later Francois Viljoen sou word. Die plaas is na Francois se dood oorgedra na sy weduwee. Ook in 1682 bekom Gerhard Cloete ‘n deel van Idasvallei wat toe Klein Idasvallei word. Samuel Cats koop Klein Idasvallei in 1780 en voeg dit weer by Groot Idasvallei na dit in die hande van verskeie eienaars was. In 1717 het Nazareth ook deel van Groot Idasvallei geword toe Jan Botma dit oorgeneem het.

In 1812 koop Jan Pieter de Villiers die plaas wat Nazareth en Klein Idasvallei insluit, en vir die volgende aantal dekades word die plaas besit deur die erfgename van die De Villiers-familie totdat ‘n gedeelte daarvan in woonerwe opgesny word.

Gedurende die 1920’s was die afdelingsraad van Stellenbosch verantwoordelik vir die infrastruktuur van Idasvallei, en enige persoon kon ‘n erf aankoop. Bruin mense het egter meer belanggestel in erwe in Die Vlakte omdat dit nader aan die dorp was.
Die gebied wes van Kahlerstraat tot by Rustenburgweg het bekend gestaan as Die Kamp, en senator Bruckner de Villiers het heelwat erwe hier besit. Oorlewering vertel dat hy net erwe verkoop het aan lede van die Afrikaanse Methodiste Episkopaalse Kerkvereniging (AME). As politikus was hy afhanklik van die ondersteuning uit bruin geledere, en dus het hy heelwat erwe in Rustenburgweg, Lűckhoffstraat, Kahlerstraat en Juffernbruchstraat aan bruin mense verkoop.

Van die bekende eienaars wat hier met groente, vrugte en aarbeie geboer het, was Awie Jacobs, Hannes Martin, Hendrik Havenga en John Peter (JP) Muller. Vriende en familie van die platteland het ook hier erwe besit, soos die Jagers-broers van De Doorns, asook die Anthonie-en Erasmus-families.

Tot aan die einde van die dertigerjare het watervoorsiening van hierdie deel slegs met putte en ‘n enkele kraan aan die begin van Rustenburgweg, bestaan. Van ordentlike paaie was daar ook nie bra sprake nie.

Dit was algemene praktyk om ‘n besigheid uit die huis te bedryf. ’n Goeie voorbeeld was die kruidenierswinkel wat Awie Jacobs uit sy huis by Rustenburgweg 45 bedryf het, en die hoekingang van die huis , wat uitsonderlik vir die styl was, is ‘n duidelike bevestiging hiervan. Die besigheid is bedryf onder die naam AJ General Dealers.

Hierdie huis, en verskeie ander in die straat, vertoon ‘n Kaaps-Hollandse herlewingstyl met ongegroefde pilare en ‘n sinkdak wat baie gewild was ook in ander dele van Stellenbosch gedurende die laat Victoriaanse tydperk.

Die Groepsgebiedewet (wet 41 van 1950) het ‘n wesenlike impak op Idasvallei gehad toe bruin mense vanuit areas soos Die Vlakte verskuif is na areas soos Cloetesville en Idasvallei, en die munisipaliteit daardeur verplig was om huise te bou om die bruinmense te akkomodeer.

Navorsing oor die geskiedenis van Idasvallei is in die negentiger jare van die vorige eeu onder leiding van die Stellenbosch Museum gedoen toe die moontlikheid ondersoek is om van die huise in Rustenburgweg te restoureer. Hierdie poging het nooit plaasgevind nie, maar die inligting vir hierdie artikel kom uit die navorsing.