Bo: Die asemrowende uitsig vanaf die Bottelaryheuwels, tuiste van die Bottelary-bewarea.

Die Bottelary Heuwels Renosterveld Bewarea (BHB) is in 1992 onder leiding van wyle Stevie Smit van Koopmanskloof en ‘n groep plaaslike grondeienaars gestig.

Die organisasie sonder winsbejag sien steeds om na die bewaring en uitbreiding van die geskatte oorblywende 1000 ha Renosterveld wat in die gebied behoue bly. 

Volgens die BHB-voorsitter, Tielman Roos van Mooiplaas-wynlandgoed en natuurreservaat, is daar sedert die ontstaan groot vordering gemaak met indringerbeheer.

“Tussen Junie 2019 en Julie 2020 is ‘n totaal van 2081 man-dae gewerk om meer as 600 ha uitkap- en opvolgwerk teen ‘n totale koste van R745,000 te doen. Die fondse hiervoor word verkry vanaf die departement landbou se Landcare-fondse asook die inkomste vanuit die bergfietsroetes,” verduidelik Roos. 

Die BHB vorm deel van die Kaapse Wynland-biosfeer wat fokus op die bewaring van die omgewing se natuurlike erfenis. Die BHB-bergfietsroete is in 2012 bekendgestel met toegang tot nagenoeg 80km se asemrowende roetes. Alhoewel die meeste van die fondse van die bergfietsroete vir indringerbeheer aangewend word, gaan ‘n gedeelte na die BHB-gemeenskapsontwikkelingsprogram. 

“Die BHB-bergfietsroetes bly steeds gewild en ons opregte dank gaan aan alle grondeienaars en lede wat hierby betrokke is. Oor die afgelope twee jaar was daar ’n beduidende styging in permitverkope. Instandhoudingswerk van nagenoeg R100,000 is deur Trail Blazers op die BHB-bergfietsroetes gedoen. Danksy Dennis Moss Projects op Stellenbosch spog ons met ‘n nuwe roetekaart en nuwe toegangsborde geborg deur Coca-Cola Peninsula Beverages. Ons het ‘n baie aktiewe span roete-opsieners wat help met die monitering van die roetes,” sê Roos.

Sedert 2017 is die formidabele Anna Oppel aan die roer van die BHB se gemeenskapsontwikkelingsprogram. Die program se boublokke is kinder- en jeugontwikkeling, gesondheid, werksgeleenthede en gemeenskapsaktiwiteite.  

Die Doen- en Leer-leesprogram (befonds deur Stellenbosch munisipaliteit se toekenning en hulpfonds), is besig om die lewens van talle laerskoolleerders te verander deur fasiliteerders op te lei om kinders te leer lees. Skole het boektrommels ter waarde van R700 van die ATKV ontvang, maar ons sou graag boektrommels aan ander plase ook wou voorsien, sou fondse beskikbaar wees. 

Volgens Oppel is die nood groot en sou hulle graag meer onderwysers wou oplei en meer kinders wou help, maar fondse is beperk. In Oktober 2019 is 12 fasiliteerders by St. Vincent Primêr opgelê – hieronder was drie vrywilligers van Goede Hoop, Fransmanskraal en Vlottenburg. Werklose persone wat as vrywilligers met die Doen en Leer-leesprogram help, ontvang besoldiging van R600 totdat fondse uitgeput is en werk dan vrywillig verder. 

Dit is altyd lekker as lede betrokke raak. Dirk Hoffman (voorheen van Bieblebomplaas in Bottelary) was die dryfkrag agter ‘n skryfbehoefte-projek by Paul Roos Gimnasium waardeur ‘n mooi klomp skryfbehoeftes ingesamel is deur gr.11-leerders en aan St. Vincent Primêr oorhandig is. 

Die Stellenbosch Rotariërklub het 600 BMX Huffy-fietse deur Bicycles for Humanity Seattle verkry om aan NPO’s in die Stellenbosch-omgewing te versprei. Danksy Dennis Moss was BHB deel van hierdie projek en het die crèche en nasorgsentrum op die Simonsig-wynlandgoed asook die laerskole in Devonvallei, Vlottenburg, Bottelary en St. Vincent ook ‘n besending fietse ontvang. 

Jaarpermitte vir die BHB-bergfietsroete is tans aanlyn beskikbaar teen ‘n spesiale tarief van R340 wat toegang tot die roetes bied tot einde 2020.  Dagpermitte (R60) is te koop by uitgesoekte punte waaronder Jordan- en Zevenwacht-wynlandgoed, die Devonvale-gholfbaan asook Engen Soneike.   

Verskeie lede waaronder Mooiplaas, Zevenwacht en Koopmanskloof het heerlike kort staproetes waarvoor permitte direk by die onderskeie bestemmings bekom kan word. 

Vir meer inligting besoek gerus die webblad en volg op FB.  Navrae kan ook gerig word aan christel@bottelaryconservancy.co.za.