Bo: Johan Ehlers, HUB van Agri-Expo, Willie Burger, keldermeester van Badsberg-wynkelder met die Genl Smuts-trofee vir die beste wyn van 2020, ‘n gehoute ruby cabernet en Christo Pienaar, voorsitter van die SA Nasionale Wynskou.

– Danie Keet

Twee Stellenbosse wynkelders, Spier en Alto, het kampioenskapstatus by vanjaar se SA Jongwynskou verower.

Spier is as die kampioen sémillon-produsent aangewys vir sy gehoute sémillon en Alto as die kampioen in die cabernet sauvignon-klas vir ‘n gehoute cabernet sauvignon.

Maar ’n gehoute ruby cabernet van Badsberg in die Breedekloof by Worcester het die gesogte Generaal Smuts-trofee verower as algehele SA Kampioen Jongwyn vir 2020, nadat dit ook bekroon is as die beste inskrywing in die ander rooi kultivar-kategorie by vanjaar se SA Jongwynskou. 

Dit was die derde keer dat Badsberg met die groot Generaal Smuts-trofee vir die algehele wenner wegstap, nadat hulle dit in 2016 ook verower het met ʼn gehoute pinotage en in 2009 met natuurlike soet witwyn. 

Die Pietman Hugo-trofee vir die kelder met die beste punte van vyf wyne by die SA Jongwynskou word vanjaar gedeel deur Robertson wynkelder en Wellington wyne: v.l.n.r. staan Bennie Howard, onder-voorsitter van die SA Jongwynskou, Francois van Niekerk, keldermeester van Wellington-wyne, Rianco van Rooyen, senior wynmaker van Robertson-wynmakery, en Christo Pienaar, voorsitter van die SA Jongwynskou.

Die Pietman Hugo-trofee vir die kelder met die beste punte van vyf wyne by die SA Jongwynskou word vanjaar gedeel deur Robertson wynkelder en Wellington wyne: v.l.n.r. staan Bennie Howard, onder-voorsitter van die SA Jongwynskou, Francois van Niekerk, keldermeester van Wellington-wyne, Rianco van Rooyen, senior wynmaker van Robertson-wynmakery, en Christo Pienaar, voorsitter van die SA Jongwynskou.

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die spesifieke oesjaar – wat deur die SA Nasionale Wynskou Vereniging (SANWSV) in samewerking met Agri-Expo aangebied word – het vanjaar later as gewoonlik plaasgevind weens die Covid-19-pandemie.

Dit is die tweede keer in die kompetisie se 188-jarige bestaan, die oudste van sy soort ter wêreld, dat ʼn ruby cabernet die louere inoes, as 69ste wenner van die Generaal Smuts-trofee. Die vorige keer was in 2012.
Die kompetisie se altesaam 19 SA kampioenwyn-trofeë, insluitend die Pietman Hugo-trofeë vir die beste punte met vyf inskrywings, is pas aangekondig deur middel van die breë media.

Die gebruiklike glansdinee, waar die trofeë oorhandig word, is nie vanjaar gehou nie, weens die realiteite van Covid-19. Altesaam 40 wyne het klaswenner-status behaal en 74 het goue medaljes ontvang.

In ’n unieke uitslag het twee kelders, Robertson-wynmakery en Wellington-Wyne, die Pietman Hugo-trofee – wat vir die wynmakery met die hoogste punte vir sy vyf beste wyne toegeken word – gedeel. Hulle was kop-aan-kop met die totale punte vir hul beste wyne.

Die totale inskrywings het ʼn afname getoon, soos deur die organiseerders verwag is met die effek van Covid-19-beperkings op die wynbedryf. Die oorweldigende kommentaar van die beoordelaars was egter dat die wyne wat beoordeel was van hoogstaande gehalte was.

Die gehalte van die 2020-witwyne het aan die verwagtinge van besonder goeie gehalte voldoen. By chenin blanc het die ongehoute wyne in die algemeen beter vertoon as die gehoutes, wat moontlik meer tyd nodig het om tot hulle volle reg te kom.

Dit was ’n baie goeie jaar vir die verskillende style sauvignon blanc, wat mooi vertoon het regdeur dié kategorie. Dít, danksy ’n baie koel Januarie en Februarie. Die beoordelaars was beïndruk met die talle mooi groen, sowel as tropiese, style.

Dan was 2020 besonder gunstig vir chardonnay en die paneel het top ongehoute wyne met goeie balans ervaar, met puik mondgevoel en lengte, terwyl die uitblinkers onder gehoute wyne gekenmerk was deur balans, met meer natuurlike suur en lemmetjie-sitrus kenmerke.

In die wit versnit-klas sonder hout het wyne met kenmerkende sauvignon blanc- en sémillon-karakter sterk na vore getree, asook versnitte met colombar wat ondersteun was deur sterk tropiese geure.

By die ander wit kultivars het sowel gehoute sémillon as viognier meer komplekse wyne opgelewer, terwyl muskaat-kultivars soos Morio muskaat en Irsai Olivér mooi vertoon het – goed afgerond met goeie suurbalans.

Aan die rooiwynkant was al die panele dit eens dat 2020 ’n baie goeie jaar was. Die versnitwyne was vol en meestal in balans, terwyl merlot pragtige, belowende en vol wyne met sagte tannien opgelewer het.

Die 2020 cabernet sauvignon-oesjaar het homself bewys as so uitnemend as verwag. Die wenners van goue- en silwer-medaljes het groot suiwerheid van vrug en ferm, ryp tannienstruktuur vertoon, in sowel die gehoute – as ongehoute kategorieë.

Die pinotage-wyne het vanjaar baie goed vertoon en dié oesjaar se gehalte het sterk na vore gekom met goeie kleur, struktuur en sagte, afgeronde tannien.

By shiraz het die ongehoute klas vanjaar uitgestaan met wyne wat kenmerkende kultivar-eienskappe vertoon, wat wissel van elegante rooivrug, met wit peper en fyn tannienstruktuur, tot donker vrug, swart peper en meer kompleksiteit.

Ander kultivars wat uitstekend vertoon het was cinsaut, Touriga Nacional, tannat, petit sirah en petit verdot. Oor ruby cabernet het die paneel gesê daar was mooi voorbeelde wat hul “asems weggeslaan het”.

Die bykans 50 beoordelaars op die 13 panele het te midde van die strengste protokolle, wat aan wêreld-standaarde voldoen het, die wyne by Nederburg in die Paarl onder die loep geneem. Die maatreëls het ingesluit dat die totale perseel, bottels, toerusting en glase daagliks deur ’n proses van UV- en osoon-behandeling gesteriliseer is met toerusting wat deur Tharo Wines verskaf is.

Intussen spog die wenner van die Generaal Smuts-trofee sedert 2013 ook met ’n spesiale plakker op die bottel om hom by verkoopspunte te onderskei. Die organiseerders het intussen opgemerk dat al hoe meer van die trofeewenners in die jongste jare as sodanig gebotteleer word vir die mark in plaas daarvan om “hul identiteit later in verdere versnitte te verloor”.

Wat die algehele uitslae betref, was uitblinkers by die skou – benewens Badsberg se groot prestasie – wat elk twee nasionale wenners opgelewer het, die volgende:

  • Darling-kelders met die SA kampioene merlot (gehout) en rooi versnit shiraz/pinotage (gehout)
  • Spier-wyne met die SA kampioene sémillon (gehout) en hul wit versnit (sauvignon/sémillon)
  • Wellington-wyne met pinotage (gehout), en shiraz (ongehout)

Die res van SA Kampioenwyne is:

  • Chardonnay – Nuy Wynkelder, chardonnay (gehout)
  • Chenin blanc – Perdeberg Cellar, chenin blanc (gehout)
  • Sauvignon blanc – Diemersdal
  • Ander wit kultivar – Van Loveren Family Vineyards, Colombar
  • Natuurlike soet witwyn – Robertson-wynmakery, natuurlike soet witwyn
  • Edellaatoeswyn – Bon Courage Landgoed
  • Cabernet Sauvignon – Alto Landgoed,  Cabernet Sauvignon (gehout)
  • Dessertwyn – Excelsior Vlakteplaas, Rooi Jerepiko
  • Muskadel – Namaqua-wyne (Spruitdrift), wit muskadel jerepiko
  • Cape-styl – De Krans Wines, Cape Vintage

Die voorsitter van die Jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê dat die gehalte van die beoordeelde jongwyne uitnemend was en ’n goeie refleksie is van die 2020-oesjaar.

“Ek was beïndruk dat die wenners van die SA-kampioenwyne van regoor die land se wynproduserende gebiede gekom het en van uiteenlopende keldertipes. Ek wil al die kelders wat deelgeneem het bedank vir hulle volgehoue ondersteuning.”

Die SA Jongwynskou dateer terug na 1833 toe die eerste sodanige skou deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap (nou Agri-Expo) in Rondebosch gehou is. Agri-Expo is steeds oor al die jare die trotse aanbieder van dié skou, elke tweede jaar as hoofborg, en medeborg in die alternatiewe jare.