Bo: Appels by ‘n appelboerdery.

Agri Wes-Kaap se Jongboer-jaarkongres is op Donderdag 1 Oktober virtueel aangebied. Die kongres met die tema Klein veranderinge, groot impak, kon as gevolg van inperkingsregulasies nie in Mei aangebied word soos beplan nie.

PF Theron, voorsitter van die Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, het gesê Covid-19 het die landbousektor voor baie uitdagings te staan laat kom, maar dat die Wes-Kaap se jongboere die stem wil wees wat unieke oplossings vind. “Daarom is dit vir ons Jongboerkomitee ook belangrik om betrokke te wees waar ons kan om nuwe en goeie leiers vir die toekoms te vestig,” het hy gesê.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van die kongres se hoofborg, FNB, het gesê klein veranderinge wat ‘n groot impak op ‘n onderneming kan hê begin soms met eenvoudige goed, soos om werklik na die behoeftes van die gemeenskappe wat ons bedien te luister. Hy het gesê die landbou se status as ‘n noodsaaklike diens is duidelik tydens die inperking gedemonstreer en dat die landbou moet voortbou op sy reputasie as ‘n sektor waarop die land in die toekoms kan vertrou.

Jongboer-Annual-CongreDie voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, PF Theron, en Ivor Price, die programleier.ss-1-Oct-2020

Die voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, PF Theron, en Ivor Price, die programleier.

PF Theron in gesprek met Ivor Price.

PF Theron in gesprek met Ivor Price.

Dr Morne Mostert, direkteur van die instituut vir toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê almal is bewus van die huidige wêreldwye krisis, maar hoe jy oor jou reaksie daarop dink, is een van die sleutels wat gaan bepaal of die uitkoms vir jou sukses of mislukking gaan inhou.

Hy het gesê mense is “onophoudelik nuuskierig” en stel belang in kreatiewe produksie wat gebalanseer word deur ‘n behoefte aan doeltreffendheid. Hy sê dit sluit mense se behoefte om te leer in en het jongboere aangemoedig om hul onderskeie netwerke toe te laat om ‘n kreatiewe produktiewe bydrae tot die omgewing te lewer waarbinne hulle funksioneer.

In haar aanbieding het Annaline Smith die voordele en gebruike van die Fruitlook-program verduidelik.

Smith, ‘n TechCoach by Blue North wat die Fruitlook-platform in die Wes-Kaap implementeer, sê dit het ten doel om produsente met bykomende inligting toe te rus om meer volhoubaar te boer en vir verbeterde hulpbronbestuur en produksie, en doeltreffende watergebruik. Sy sê hoewel die naam na vrugte verwys, hou die program voodele vir enige landbouproduksie in.

Die Wes-Kaap se 2019 Jongboer van die Jaar, Johan van der Schyff, het ook die kongres toegespreek. Johan, wat ook die nasionale titel as 2019 se Jongboer van die Jaar verwerf het, het gesê jongboere moet altyd probeer verbeter op dit wat hulle doen. “Moet nooit terug sit en dink alles loop in plek of alles is reg nie. Skaaf daaraan. Moet nooit te min van jouself dink nie. Moenie jouself vergelyk met ander boere nie. Dit gaan nie oor hoe groot jy boer nie, maar oor hoe effektief en eerlik jy boer,” het hy gesê.

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaap se minister van landbou, het gesê dit is klein goed wat ewe maklik tot sukses of mislukking kan lei. Hy het gesê produsente moet omsien na die klein dingetjies wat eie aan hul boerdery is, soos ‘n hek wat skeef hang of ‘n werker wat op ‘n dag nie hom- of haarself is nie. Hy sê die Wes-Kaap se departement van landbou glo ook dat klein veranderinge ‘n groot positiewe impak kan maak en het verwys na die departement se boeredae wat tydens die Covid-19-inperking baie suksesvol virtueel aangebied is. “Dit is in lyn met ons filosofie om die landbousektor gereed te maak vir die vierde industriële revolusie,” het Meyer gesê.