Bo: “Sonder die dood kan daar nie vernuwing wees nie,” skryf Hilton Biscombe.

 – Hilton Biscombe

Nou, op hierdie Vrydag, 2020/10/02, 32 dae voor die Amerikaanse verkiesing, met sy vrotbek en al, na die disaster van ‘n debat met sy teenstander, sneuwel hierdie 72-jarige president, positief met Covid 19. Nou nie dood nie, maar loop die gevaar soos ons almal om die tydelike met die ewige te verwissel. Dit wil nou sê as ons Jannie en Sannie en Kosie en Rosie se sportklub join met die opdrag dat hulle nie die rëels teen Sir en Madame Corona hoef na te kom nie.

Blou gesig met bolwange verkondig die grootbek van ‘n mens dat hierdie virus met ‘n poef in die son gaan verdwyn en dat wetenskaplikes wat teen sy rondvroetery is, net ‘n klomp onsin praat. Maar natuurlik ja, wens ek hom nie onguns nie, al is sy voetspoor in die wêreld maar laf.

Dit stem my tot onrus as daar ook in ons midde dieselfde houding openbaar word wat natuurlik ook ons ondergang kan beteken.

Gepraat van ondergang, betreur ek die sterftes in ons midde, maar nie noodwendig aan Covid 19 nie, maar ons groot ander vyand met ‘n hoofletter K, wat ons nie eintlik wil uitspreek nie. Maar die tyd het nou aangebreek om met ‘n helder gemoed hierna te kyk.

Ek hou aan u dus voor die stilte van jou liggaam, die tempel wat die God, van jou hart, wat Hy jou gegee het.

Stilte; dis dan hier wat ek u vra om my woorde te herdenk, as ek my eie tempel oopmaak of ontgrendel. Nee, ek’s nie ‘n predikant nie, nog minder ‘n filosoof, wat lank gelede en tot onlangs geliefdes aan die dood moes afstaan.

As u dink dat dit te moroos is, skakel maar uit, delete en mag ek net noem dat ek miljoene jare gelede, in my matriekjaar, ‘n artikel geskryf het met die volgende opskrif: “Parting is such sweet sorrow”… daai tyd het ek nie eintlik geweet wat dit beteken nie. Daar was mos meisies om te impress, maar nou besef ek wat dit beteken. Dit het so goed op my bakore geval, wat maar altyd soos antennas klanke en wanklanke kon optel wat natuurlik my hele lewe bygebly het om dit te verklaar.

Nee, moenie vir my vra wat dit beteken nie. Jy moet dit maar self ontrafel!

Dit vra inkeer, so reg in jou lyf in as jy die gesang van jou organe wil neerpen en besef dat jy ‘n ander woord daarvoor moet kry. Miskien sentrums van uitnemenheid as die bloed volmag beding soos dit teen die steiltes van jou organe loop en met heilige gemoed die groot gesprek met jou liggaam, die huis van jou gees, wil begin.

As die begin dan oorgawe vra, en die huis, ‘n portaal van lig, sal dit so wees dat eenstemmigheid die credo van tweestemmigheid word om dit te laat vlot in ‘n ruimtelose bestaan, waar klank nie ‘n naam het nie en die aanwesiges, skimme in die nag, met ‘n verlange vanaf donker gestaltes na dit van volkome lig.

Diftonge en die wissel in volle werking as die gesprek begin.

Maar dit vra moed. Soos ‘n soldaat wat met oorgehaalde kennis die dood aandurf, wat al langs die sy van ‘n onbekende moet loop, die vasberadenheid van ‘n mier as hy die werk van knegte doen, so teen alle verwagtinge in, die vrug vernietig asof dit ‘n lewenstaak is totdat hy die ontdekking maak na verorbering van ‘n paar dae dat daar nog is.

Sommer nog baie.

So sal dit dan met hierdie gesprek wees. Baie moontlikhede. Gesprekke van neergefelde selle waar daar geen grofgeskut is nie, maar net die Groot Intelligensie se besluit dat dit tyd is. Tyd vir vernuwing.

Sonder die dood kan daar nie vernuwing wees nie.

Dis dan dat die rebellie begin. Hier binne jou lyf in jou bloed, die oorlog waar die mikroskopiese selletjie die hele werf rondhardloop. Onbeheersd en ongehoorsaam.

En dan die swart blom met ingewortelde tentakels en die sweer om Ou Grote les te laat opsê.

Die Groot Stryd van buite begin dan waar liters en liters gif in die bloed losgelaat word, waar die vrot met baie goeie bedoelings weggesny word. Dit help, dit help nie. Dit hang af hoe diep die reis was. Dis dikwels diep. ’n Reis met geen terugkeer, omdat ons ‘n goeie God dien wat presies weet waar hy jou wil plaas. Aan die regte kant van die lewe, want die angel is uitgetrek deur sy Seun, so glo ons. Al is daar niks anders nie is daar ‘n merk wat sê dat daar ‘n angel was en dan soos die mier met God se hartklopping in sy lyf in, die werk doen, ongeag van waar hy hom bevind of hoe klein hy is, dis wat van jou verwag word.

Aan alle kankerlyers dan dié boodskap: Dankie dat julle ligdraers vir ons is. U is aan die kant van die tydige wat altyd ‘n voorreg is. Die ewige, is God se terrein.

So be it.

‘n Tyd gelede het ek hulde gebring aan ‘n skrywer wat geweldadig gesterf het in my eie verwerking van die pyn en dood.

Hoe skryf jy oor ‘n onbekende persoon, iemand wat jy net van ‘n eerbetoon deur andere ken, iemand wat die ewige in die uitbreek van vreugde ervaar het as die tydelike pynlike oomblik van afskeid aanbreek? Hoe berig jy dit in jou eie gemoed in as sy verwelkom word deur engele as ‘n ou bekende wat gereeld kom besoek kom aflê het, op soek om aan die liefde nog ‘n beter kleur te gee?

Ek wens ek kon jou ontmoet.

Met biljoene woorde sal ek jou wou eer… Jy’t die essensie as die middelpunt van jou verlange uitgeleef. Dit was altyd die liefde wat gewondes kon genees, selfs vir my wat jou nie ken nie, selfs vir hulle wat nou gestrak sit en wonder oor dade tot skuldig bevind?

Jy was ‘n diep mens, so kom ek agter. En dit het jy aan andere oorgedra deur jou verfynde skryfwerk. Jy’t passie gehad, so verklaar jou boeke. Jy was ‘n heler, want jy’t geweet dat ons dit nou die nodigste het en daarom kon jy die hoogste offer bring. Natuurlik nie doelbewus nie, maar ek kan nie help om die ooreenkoms te sien met die bloedstorting onder die grootstes van God nie.

Jy’t iets in my kom losmaak, die hele tyd al bespeur ek hierdie gevoel wat oor grense heen tot my spreek. Dis asof jy ons nog meer wou verhef. Veral nou, met jou dood, is ons nog meer bewus van ons eie kwesbaarheid, maar ook Godgegewe krag om te oorkom.

Ons kan, almal van ons.

Ek glo dat daar nog baie meer van u soort is en dat dit nou die tyd is om oop te maak na ‘n nuwe wêreld van saamhoort sonder die wysvinger, maar met ope hande. Basies doen ek dieselfde soort werk hier op Stellenbosch as ek skryf oor randgemeenskappe. Dankie vir jou lewe en dankie as jy my stuur om Totius se gedig weer te lees.

Die wêreld is nie ons woning nie…

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.