Bo: Sunette Viljoen doen spiesgooi. Foto: Stephan Meyer.

– Lia Snijman

Sunette Viljoen was al by vier Olimpiese Spele as spiesgooier en berei haar nou voor vir haar vyfde een in 2021. Dan is sy boonop nog ‘n atletiekafrigter by Hoër Meisieskool Bloemhof wat onlangs ‘n junior atletiek-akademie begin het.

Al het Viljoen nou al ‘n paar Olimpiese Spele bygewoon, bly sy opgewonde daaroor. “Dit bly die ultimate vir enige atleet om ‘n Spele by te woon, wat nog te sê van op die podium staan – iets wat ek in 2016 in Rio vermag het toe ek silwer gewen het,” sê sy. Hierdie silwer medalje is haar trotste oomblik as ‘n sportster.

Sy neem nog altyd deel aan spiesgooi as haar Olimpiese sport. Sy beplan wel om na die 2021 Olimpiese Spele nie weer na een te gaan nie, aangesien sy beplan om net vir nog twee jaar ‘n voltydse atleet te wees.

“Dit was natuurlik ‘n massiewe teleurstelling [toe die Olimpiese Spele een jaar aangeskuif is], maar ek is iemand wat terugslae baie vinnig afskud en aanpas,” sê Viljoen oor die Covid-19-aanpassing.

Viljoen fokus nie net op haar eie atletiese vermoëns nie, maar ook die van ander. Haar junior atletiek-akademie is al vanaf 1 Oktober aan die gang en is gerig op gr. 4-7-leerlinge.

“Ek wil kinders ‘n liefde vir atletiek oor die algemeen aanleer – hulle hoef nog nie in een spesifieke item te spesialiseer nie. Stellenbosch het soveel onontginde atletiektalent en ek wil dit graag help slyp,” verduidelik sy.

Die items waaraan sy kinders wil blootstel is spiesgooi, gewigstoot en diskus. Om hulle daarvoor voor te berei, slyp sy hul “gooivaardighede in die geheel”.

Sy voeg by: “Dis vir my belangrik dat kinders die oefeninge moet geniet en daarom laat ek hulle ook goed soos Amerikaanse voetbal speel. Hulle oefen dus steeds die gooi-aksie van die spies, maar op ‘n ander manier. Dit is ook sommer ‘n ysbreker, voor ons op spiesgooispesifieke oefeninge fokus.”