Bo: Die helderkleurige killivisspesie, Nothobranchius attenboroughi, is slegs vyf sentimeter lank. Dit word aangetref in niestandhoudende poele en moerasse aan die oostekant van Victoriameer, waar sy oorlewing afhang van die jaarlikse reënseisoen wanneer die droë rivierbeddens van die Serengeti-Mara Ekosisteem weer in vloed is. Foto: Brian Watters.

’n Nuutontdekte killivisspesie van die ikoniese Serengeti Nasionale Park in Tanzanië, is vernoem na Sir David Attenborough in erkenning vir sy eindelose pogings om ’n bewustheid van die wonders en skoonheid van die natuur, te bevorder.

In teenstelling met die charismatiese wildebeeste en hulle skouspelagtige jaarlikse migrasie, is die helderkleurige Nothobranchius attenboroughi skaars vyf sentimeter lank en bekend daarvoor dat dit vining leef en jonk doodgaan. Hierdie spesie is endemies in noordelike Tanzanië en ’n noodsaaklike skakel in die Serengeti-Mara Ekosisteem.In teenstelling met die charismatiese wildebeeste en hulle skouspelagtige jaarlikse migrasie, is die helderkleurige Nothobranchius attenboroughi skaars vyf sentimeter lank en bekend daarvoor dat dit vining leef en jonk doodgaan. Hierdie spesie is endemies in noordelike Tanzanië en ’n noodsaaklike skakel in die Serengeti-Mara Ekosisteem.

Dit is die rede waarom vyf wetenskaplikes en visentoesiaste van Kanada, Frankryk en Suid-Afrika besluit het om hierdie hoogs kwesbare spesie te vernoem na die doyen van biodiversiteitsbewaring. 

“Ons wou Sir Attenborough vereer vir sy pogings om wêreldwyd onder soveel mense ’n bewustheid te skep vir die wonder en skoonheid van die natuur, vir die bevordering van die belangrikheid van biodiversiteitsbewaring, en bowenal vir die feit dat hy so baie jongmense en navorsers in die veld van natuurgeskiedenis geïnspireer het, ons inkluis,” verduidelik die outeurs: Prof Dirk Bellstedt (biochemiskus) en Dr Fenton Cotterill (geoloog), hulle student, De Wet van der Merwe, van die Universiteit Stellenbosch, asook Béla Nagy van Frankryk, en Prof Brian Watters, van Kanada.

Hierdie eklektiese groep navorsers het sedert die 1990s saamgewerk aan navorsing oor hierdie visspesie wat endemies is in Oos-Afrika. Tussen die vyf van hulle het hulle duisende kilometers afgelê van so vêr noord as Tsjad en Soedan, deur oostelike Sentraal-Afrika tot by die Caprivistreek in Namibië en Suid-Afrika se noordelike provinsie, KwaZulu-Natal. En dit alles in ’n poging om Nothobranchius-spesies te bestudeer, te beskryf en inligting, sowel as weefsel, in te samel vir laboratoriumbestudering. ’n Sleutelaspek van hul studie was die DNS-volgordebepaling en molekulêre werk wat in 2007 deur Dr Fenton Cotterill in Prof Bellstedt se laboratorium begin is en daaropvolgend sedert 2015 baie uitgebrei is deur De Wet van der Merwe se PhD-navorsing. 

Hulle wil van hierdie geleentheid gebruik maak om bewustheid te kweek oor die twyfelagtige bewaringstatus van die Nothobranchius-vis in die algemeen: “Die biodiversiteit van Oos-Afrika is met reg bekend vir die diversiteit van sy pragtige groot soogdiere, maar die varswatervislewe is nie minder belangrik nie. Die bewaringstatus van Nothobranchius attenboroughi is afhanklik van die ongeskondenheid van die Serengeti-Mara Ekosisteem en die gebied wat die Victoriameer omring,” verduidelik Prof Bellstedt.

Dit is as gevolg van die feit dat hierdie vis in die reënseisoen letterlik slegs lank genoeg leef om volwassenheid te kan bereik en dan doodgaan sodra hulle hulle eiers in die modderonderlaag gelê het en die seisoenale poele opdroog. Die modder word dan droog en kraak wat suurstof inlaat en die embrio’s laat ontwikkel. Met die koms van die reënseisoen wanneer die poele weer vol word, broei die eiers uit waarna die klein vissies vinnig groei, doodgaan en die siklus homself herhaal. 

Met klimaatsverandering en die vestiging van mense in die streke rondom die Victoriameer, is die bewaring van die Serengeti-Mara Ekosisteem nie net belangrik vir die bewaring van die groot soogdiere soos die wildebees en hulle migrasie nie, maar ook  vir die wonderlik aangepaste helderkleurige klein vissies en hulle onsekere lewensiklus. Sir David Attenborough het altyd beklemtoon dat ’n ekosisteem uit baie, selfs klein spesies bestaan, wat dan ook een van die redes is waarom die outeurs die spesie na hom vernoem het om hom te vereer.

Meer oor Nothobranchius attenboroughi 
Nothobranchius attenboroughi is endemies in noordelike Tanzanië en word aangetref in niestandhoudende poele en moerasse wat geassosieer word met die Grumetirivierstelsel en ander klein rivierstelsels wat dreineer in die Victoriameer aan die oostelike kant. Die ekologiese integriteit van die rivier word behou deur die samevloei van sy opvangsgebiede wat grootliks in die Serengeti-Mara Ekosisteem voorkom. Dit is een van ses nuwe spesies wat beskryf word in ’n artikel getiteld:  “Review of the Nothobranchius ugandensis species group from the inland plateau of eastern Africa with descriptions of six new species (Teleostei: Nothobranchiidae)”, wat in April vanjaar in die vaktydskrif Ichthyological Exploration of Freshwaters gepubliseer is. Die artikel is aanlyn beskikbaar.

Die werk is voorheen grootliks privaat gefinansier deur die outeurs, maar word sedert 2015 gefinansier onder die sambreel van die “Off the Beaten Track” inisiatief van die Volkswagen Stigting in Duitsland en die Universiteit Stellenbosch. Die doel van die projek, getiteld: “Exploring the Genomic Record of Living Biota to Reconstruct the Landscape Evolution of South Central Africa”, is om ’n nuwe benadering te ontwikkel waarvolgens die landskapevolusie van Sentraal-Afrika wat oor die afgelope 20 miljoen jaar plaasgevind het, te rekonstrueer. Dit word gedoen deur Sanger en volgende-generasie volgordebepaling van die DNS van visgroepe soos die killivisse en die kurper familie, te kombineer met hoë-presisie rotsdatering van hoof landvorme.

– Wiida Fourie-Basson vir Universiteit Stellenbosch