Bo: Visvang is ‘n stokperdjie.

– Pieter Cronjé

“Nuuskierige agie” is dalk nie ‘n kompliment nie, maar nuuskierigheid sorg vir ‘n interessante lewe. Musiek is die lewe se nektar. As jou passie jou beroep word, werk jy nooit weer nie. Rekenaars vra nie jou ouderdom nie. Stokperdjies vermeerder jou goedvoel-hormone en verminder jou streshormone. Dis ‘n mondvol en ‘n breinvol.

Die bekende Amerikaanse leierskapsghoeroe, Tom Peters, sê sy grafskrif sal lees: “Nuuskierig tot die einde.”

Voeg verbeelding by nuuskierigheid en jy verstaan hoekom kinders soveel pret met ‘n stok-perdjie kan hê. Die “stokperdjie” het ‘n liefde vir, studie van, opgaan in ‘n gunsteling-vaardigheid en belangstelling buite jou werk geword. Die begrip is soveel ryker as “tydverdryf”.

Ons het ontdek dat “afsloof maak van Piet ‘n bleeksiel”. Interessante mense is interessant. Al is jy nie ‘n seël- of toiletsitplek-versamelaar(!) of bonsai-kweker nie, is die geesdrif waarmee ‘n missielbouer, insekteler of seepkerwer hul passie verduidelik aansteeklik. Sonder produktiewe belangstellings raak jy in die pad in ander se persoonlike ruimtes. Susan knipoog as sy sê: “Liewer afwesig as onder my voete!”

Dr. Stephanie van Niekerk, ‘n psigiater van Stellenbosch verduidelik: “Stokperdjies of liefhebberye laat die brein meer ‘goedvoelhormone’ (endorfiene) en minder ‘streshormone’ (kortisol) afskei. Baie stokperdjies vereis ‘n mate van liggaamlike aktiwiteit, laat jou nuwe vriende ontmoet, verbeter jou vaardighede en talente, dit laat jou trots voel en bou selfvertroue in jou werk of ander aspekte van jou lewe. Dit het dus ‘n hele spul voordele!”

Die arbeidsmark, finansiële en gesinsoorwegings het lankal tradisionele “broodwinner”- en “tuisteskepper-“rolle op hul kop gedraai. “Aftree” is vervang met “wegtree en aantree” – of jy nou moet of wil aanhou werk.

Ontwrigtende veranderinge in ons werks-, gemeenskaps- en persoonlike lewens weens al sneller ontwikkelinge in inligtings- en biotegnologie bied ‘n keuse: onttrek, ontken of kies die avontuur van bly leer, jouself herontwerp, herverpak en herbemark, bly by of voor.

Pieter Cronjé is 'n onafhanklike internasionale konsultant van Stellenbosch. Hy gee deeltyds klas by die Universiteit Stellenbosch, is betrokke by internasionale motorwedrenne en adviseer van korporatiewe tot professionele ondernemings in leierskap, kommunikasie, handelsmerkbestuur en sakegroeistrategie. Hy was kommunikasiedirekteur van die eerste onafhanklike verkiesing in 1994 en ook van Stad Kaapstad. Hy was nou betrokke by groot projekte in verskeie ekonomiese sektore, die 2010 Sokker Wêreldbeker en het ook Brasilië en Rusland besoek om dié lande met hul Wêreldbekers in 2014 en 2018 te help.

Pieter Cronjé is ‘n onafhanklike internasionale konsultant van Stellenbosch. Hy gee deeltyds klas by die Universiteit Stellenbosch, is betrokke by internasionale motorwedrenne en adviseer van korporatiewe tot professionele ondernemings in leierskap, kommunikasie, handelsmerkbestuur en sakegroeistrategie. Hy was kommunikasiedirekteur van die eerste onafhanklike verkiesing in 1994 en ook van Stad Kaapstad. Hy was nou betrokke by groot projekte in verskeie ekonomiese sektore, die 2010 Sokker Wêreldbeker en het ook Brasilië en Rusland besoek om dié lande met hul Wêreldbekers in 2014 en 2018 te help.

Dit geld vir almal wat werk, produkte en diens lewer, ook vir vol- of half-afgetredenes! COVID-19 het terpentyn onder daardie veranderingsproses se stert gesmeer…

Met al meer aanlynwerk of raadgee uit jou blyplek, dikwels vir meer as een werkgewer of kliënt, raak balans en afwisseling noodsaaklik. ‘n Professionele tuiswerk-egpaar maak beurte om stiptelik vyf-uur vir mekaar te sê: “Liefie, ek’s tuis!” Anders werk hulle die donker in. Mens bly maklik op ‘n trapmeul. Stokperdjies en musiek is wonderlike teenvoeters.

Die skeppende
Skilder, teken, keramiek, mosaiëk, houtsnee, beeldhou, fotografie en videografie skep kuns. Die mooi. Die eindproduk ontroer, gryp aan, ontlok hartseer, heimwee of vreugde.

Sing, koor-sing, musiek komponeer, klavier, viool, klarinet, trompet en tromspeel is vreugde, uitlewing en vervulling.  

Prentjies, note en dan woorde. Kortverhale, romans, lewensverhale, digkuns, dramas, draaiboeke, inspirerende boodskappe of vertellings aan vriende en familie of op sosiale media vind weerklank in ander se gemoed.

Handewerk
Handgemaak. Eg. Uniek. Met liefde geskep en dalk ‘n erfstuk. ‘n Donskombers met egte plaasdons, tapiserie, dooprok, hekel, breiwerk, dosyne boorduursteke, klere- en hoedemaak. Voorskote, teemusse, tafellappies, babalinne, ‘n serp, ‘n porseleinpop of ‘n teddiebeer.

Handgemaakte messe, swaarde, swepe, skaakstelle, meubels, boekrakke, lessenaar, tafels, stoele, banke, lampskerms, ‘n wiegie, speelgoed-trekker en -motor.

‘n Pyl en boog van kareehout of koeniebos met fluitjiesriet-pyle reguit gemaak oor ‘n kersvlam, met gesmelte lood in die punt en vasgetrek met biltongsenings, ‘n kettie. ‘n Meesterlike vlieghengelstok uit die keur van bamboes, die fynste forelvliegies uit diere-pels en voëlvere. Stokou skietgoed wat weer knal. Skaalmodelle van vliegtuie, skepe en krygstuig, soomloos geplak uit honderde klein stukkies.

Gebak, inlê, kookklasse, eksperimenteer in die kombuis omtower ‘n sleurtaak in ‘n liefde.

Rygoed
Gerestoureerde en gemodifiseerde motors, trekkers en bakkies. Uitgesnuffel, gedissekteer op die garagevloer, moeisaam en nougeset afgewerk en weer aanmekaar gesit, soms met selfgemaakte onderdele.  Gepoetse metaal en leerbekleedsel.

Viertrek-bakkies en -nutsvoertuie wat dongas, hellings, driwwe en duine oorwin om die verlate kampeerplek onder die sterrehemel te bereik.

Handgemaakte padfietse, bergfietse en tandems. Heerlike naweekritte in ‘n bondel wat laat waai of skertsend langbeen trap na koffie en kolwyntjies by die draaipunt. Boendoe-tweewiele met donkieratte wat hoogtes uitbeur, bergpiek-uitsigte bereik en steil afdraendes trotseer. Bote vir ski, hengel, dam, meer, rivier of oopsee. Seiljagte vir dou-voor-dag, sonsak of ver vaarte op die bloudam. Branderplanke wat golwe soek.

Bittereinder veldry-motorfietse met vering vir die bykans onbegaanbare weë. Blitssnel, vetwiel spoedgevaartes wat maklik anderkant 200 kph kuier.

Vlieggoed
‘n Boemerang wat vlieg en terugvlieg, ‘n balsahout-sweeftuig, ‘n radiobeheerde enjin- of straalaangedrewe siviele of militêre vliegtuig of helikopter. Valskerm, vlerksweef, mikrolig, sweef, skroef- of straal-adrenalien, ‘n arendsblik op die natuurskoon onder en die horison voor.

Kuberperdjies
Die rekenaar vra nie hoe oud jy is nie. Leer aanlyn vlieg, kode skryf of sterre en planete verstaan. Vra YouTube se raad om kaaskoek te bak, ‘n fiets te versier of jou huis se kleurskema te kies.

Vroeër was mentors en ensiklopedieë nodig. Vra vir Dr Google die regte vraag en hy (of sy?) spoeg ‘n antwoord soos ‘n verversingsoutomaat uit.  Jy hoef nie die tegnologie te verstaan nie.  Dis soos ‘n lig. Jy moet net weet waar die skakelaar sit.

Moenie dat tegnologie en die rekenaarslim jongklomp jou afskrik nie. Die internet gee die ‘techies”, jou seun of kleindogter, net inligting en nie jou kosbare ander vaardighede soos lewenservaring, wysheid, oordeel, ervaring, algemene kennis en konteks nie. Dis waar ware kennis en insig lê. Tegnologie word al kragtiger en meer gebruikersvriendelik. Omarm dit.  Dit is ‘n sleutel vir ‘n haas onuitputlike kenniskluis.

Laai nuttige toepassings (“apps”) soos nuus op jou foon af, belê in goeie wifi en onbeperkte data. Gebruik die internet en sosiale media selektief en oordeelkundig. Volg meer as een nuusbron bv. koerant, radio, televisie en aanlynnuusdienste.

Stokperdjies vir die liggaam
Sport en oefen is gesonde en noodsaaklike stokperdjies. Stap, veral vining, is seker die mees onderskatte oefening. Dit hou hart en longe gesond en help om bene, gewrigte en, baie belangrik, rûe diensbaar te hou.

Die buitelug en natuurskoon is so terapeuties as die oefening. Fietsry is pret, gerieflik en verklein jou koolstofvoetspoor. Gimnasium-oefeninge, berg- en rotswand-klim is pret.

Swem oefen die hele lyf en water kalmeer die kop. Kies uit voetslaan, gholf, rolbal, tennis, draf, Pilates, joga en selfs Oosterse gevegskunste soos Tai Chi. Sorg dat jy spiermassa behou. Laat sporthelde of superfikses in jou portuurgroep jou inspireer pleks van intimideer.

Musiek
Jou soort musiek kan binne ‘n minuut ‘n blou Maandag in ‘n naweek-Vrydag verander.

Belê in goeie klank, selfs net goeie oorfone vir jou selfoon as jy musiek daarop luister. Jy kan inteken om ‘n wye verskeidenheid musiek af te laai.  As jy gereeld musiekvideos op YouTube kyk, begin die platform jou voorkeur ken en stel soortgelyke musiek voor.

Kies klassiek of kamermusiek, “country” of “gospel”,  “blues” of bossa nova, opera of orrel. Suid-Afrika het wonderlike musiekmakers – Coenie, Laurika, Lise, Anna, Jannie, Loki, Mauritz, Charl.

Geen twee jazz-uitvoerings is ooit dieselfde nie. Die musikante maak beurte met hul solo’s, voel mekaar se stemmings en reageer op die gehoor se waardering. Ek was bevoorreg om twee konserte van jazz-legende Dave Brubeck (“Take Five”) na mekaar en vir verskillende gehore by te woon. Die eerste het 80 minute geduur, die tweede, met ‘n begeesterde gehoor, meer as twee uur.

In New Orleans, die wieg van jazz, het ek in Preservation Hall vir “Sweet Emma Barret”, “Josiah Cie Fraser”,” Alcide Slow Drag Pavageau” en ander legendes hoor speel, by Ronnie Scotts in Londen vir Oscar Peterson (klavier), Buddy Rich (tromme) en in die Kaap vir Toots Tielemans (mondfluitjie), Bob James (klavier), Larry Carlton (kitaar) en Nathan East (baskitaar). Tom Jobim se “Girl from Ipanema” het my skooltyd Brasiliese samba en bossa nova-musiek laat ontdek. Gaan luister na Yamandu Costa, Oscar Castro Neves, Ivan Lins, Eliane Elias en Leonardo Amuedo op YouTube. Onbekend, onbemind: “Leonid (Vorobyev) and friends”, almal Russe, speel rockgroepe Chicago en Earth Wind and Fire se musiek byna mooier as die oorspronklike!

Dis ‘n ontdekkingstog. Jy kan luistergenot kies en die vaardigheid van ‘n sanger of instrumentalis waardeer. Musiekaande en musiekgroepe is verkennings- en ontdekkingstogte.

Diere
Diere is nie net metgeselle nie, maar lewende stokperdjies.  Honde is getroue kamerade, stapmaats, katte wissel van liefdesbondeltjies tot afgetrokke jagtiere, papegaaie is kletsmaats en kleurryke tropiese vissies bekoor. Leer van slange, spinnekoppe, arende, haaie…

Tuin
‘n Mooi tuin is ‘n hartsvreugde, leerskool en sielerus. Potplante op ‘n balkon is lewe. Rose, snyblomme, sukkulente, boomvarings, broodbome, inheemse bome, waterwys-plante en -tuine. Groente, kruie uit ‘n tuin of pot, en vrugte van ‘n boom is ‘n gawe.

‘n Lewens-reistas
Die lewe is marathon, nie ‘n 100 meter-wedloop nie.

Prof. Johann Coetzee, ‘n kenner oor beroepsbeheptheid, self- en gesinsverwaarlosing, het naelskraap aan die dood ontkom. Hy skryf ‘n boek oor sy lewenskentering, Dis ‘n kwessie van tyd, met ‘n tweeledige vraag: “Wat doen jy met die tyd wat jy gegun word?” en “Wanneer is genoeg genoeg?”

Vind geestelike ankers en inspirasie. Slaap en rus genoeg.  Eet gesond, natuurlik en verstandig.  Drink water. Vind ‘n mentor en wees een vir iemand. Koester jou hartsvriende en wees ‘n hartsvriend vir ander. Vind sin en ‘n doel in die lewe. Wees waardevol in iemand se lewe.

Mediteer. Luister na die stem van die stilte. Werk harder aan jouself as aan jou beroep (Jim Rohn). “Die verstand is nes ‘n valskerm. Dit werk die beste as dit oop is” (Frank Zappa).

Bestee min tyd aan kleinighede. Gister is verby, môre is ‘n raaisel. Leef bewustelik, nou, lag en bly ‘n agie.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.