Bo: Cari Smit se The Skin Speaks VII. Foto: Myüz Gallery.

– Lia Snijman

Myüz Gallery is Lizelle Kirsten (22) en Annemarie Wüst (23) se aanlyngalery wat hulle al vanaf Maart bedryf en hulle gaan reeds in November hul eerste fisiese uitstalling hê.

Kirsten vertel hoe sy en Wüst in die kar gery het toe Wüst die idee vir ‘n aanlyngalery genoem het. “Anna het sulke oomblikke, dan kry sy ‘n sparkle in haar oog,” sê sy. Alhoewel sy gesê het dat sy daarin sal belangstel, het hulle aanvanklik niks gedoen nie, maar toe wel in Maart in die inperkingstyd begin om daaraan te werk. “In alle eerlikheid, ek dink nie ons sou die kapasiteit gehad het om te begin as dit nie vir lockdown was nie,” sê Kirsten.

Wüst verduidelik dat haar broers baie entrepreneursvaardighede het en sy by hulle gesien het hoe om dinge aan te pak. Sy ken al vir Kirsten vanaf gr.10 en het deur hul gesprekke agtergekom dat daar ‘n gaping in die kunsmark is.

Die logo van Myüz Gallery.

Die logo van Myüz Gallery.

Lizelle Kirsten en Annemarie Wüst, die span agter Myüz Gallery.

Lizelle Kirsten en Annemarie Wüst, die span agter Myüz Gallery.

“Daar is eintlik al soveel van die kunstenaars wat reeds vroeg kwaliteit kuns maak, maar daar is nie eintlik ‘n platform om by die kunswêreld in te kom nie,” sê sy.

Kirsten voeg by dat daar ‘n te groot gaping is tussen ‘n student wat sy kunsgraad verwerf het en ‘n gevestigde kunstenaar wat ‘n kontrak het by ‘n groot kontemporêre kunsgalery.

Hulle het die besigheid Junie amptelik van stapel gestuur en begin bemark op sosiale media.

Wüst sê dis “broodnodig” dat hulle twee dit saam aangepak het, nie net omdat dit meer hulpbronne en tyd beteken nie, maar omdat hulle twee mekaar kan ondersteun en aanhou motiveer.

Myüz Gallery het sy naam gekry van die Engelse woord “muse” en word ook so uitgespreek. Kirsten verduidelik hulle wou klem plaas op die denkproses aangesien sommige kontemporêre kuns nie ‘n denkproses volg nie. Sy wou hê hulle galery moet hoë kwaliteit kuns hê met ‘n dieper betekenis. Wüst sê die spelling was om dit meer uniek te maak en dat die uniekheid daarvan ook beteken dat mense dit makliker onthou.

Kirsten wou ook graag kuns uitstal wat meer toeganklik is vir die publiek. “Dit hoef nie noodwendig kripties te wees nie,” sê sy. Wüst sê beide estetika en betekenis is belangrik vir hulle.

Nog twee dinge wat hul kuns meer toeganklik maak, is dat dit aanlyn en goedkoper is. Die twee werk saam aangesien ‘n aanlyngalery beteken dat hulle geen huuruitgawes het nie. Kirsten sê om die kuns wat jy wil koop aanlyn in jou koopwaentjie te kan sit, maak die proses veel makliker. Wüst voeg by: “’n Mens sal nie sommer by ‘n galery instap en dink jy gaan iets koop nie, maar tog is daar so baie goeie kuns en goeie kunstenaars. Dit behoort eintlik heelwat makliker te wees vir die algemene publiek om mooi kuns, en goeie kuns, en betekenisvolle kuns, in hulle huise te kan uitstal.”

Hulle het wel ‘n beleid dat kliënte kuns mag terugstuur indien dit vir hulle heeltemal anders lyk in lewende lywe. 

Dayna-Gay Tate se at the table. Foto: Myüz Gallery.

Dayna-Gay Tate se at the table. Foto: Myüz Gallery.

Wüst sê hulle doen moeite met die foto’s wat hulle neem vir die webtuiste sodat daar ‘n paar foto’s is en van ‘n paar verskillende hoeke af, wat toelaat dat dimensies en details gesien kan word. Kirsten sê hulle maak seker dat as daar iets vreemds is aan ‘n kunswerk, byvoorbeeld as dit baie klein is, sal hulle seker maak dat die kliënt daarvan weet voor die aankope. 

Hulle plan om die galery aanlyn te hê, kom al voor Covid-19. Hul idee was van die begin af “om ‘n brug te bou” tussen die kunstenaars en diegene wat hul kuns wil koop, volgens Kirsten. Sy sê fisiese galerye raak deesdae minder soos wat dinge meer digitaal raak en dat “kuns nie moet agterbly nie”. Sy weet dat daar al vele aanlyngalerye is, maar het gevoel dat daar nog goeie kwaliteit galerye nodig is.

Wüst sê hulle wil nie te kommersieel raak nie, met verwysing na ander platforms wat soms te veel kunstenaars op het en dan raak ‘n mens weg in die gedruis. Kirsten voeg by dat hulle net ‘n beperkte aantal kunstenaars op hul webtuiste sal huisves, want, net soos met ‘n fisiese galery, moet daar nie te veel aan die gang wees nie. Hulle sal eerder die kunstenaars wat wel daar is, se werk sirkuleer.

Daar is op die oomblik 11 kunstenaars op die webtuiste, maar hulle gaan binnekort 15 hê, met ‘n paar wat nou gekeur word.

Hulle het aanvanklik kunstenaars betrek wat hulle direk of indirek geken het, dus is meeste van Kaapstad, Stellenbosch en die omliggende areas. Hulle is wel nou besig om kunstenaars vanaf Johannesburg in te bring, volgens Kirsten. Sy sê hulle bring ‘n ander dimensie in by Myüz Gallery.

Kirsten vertel dat hulle soms na nuwe kunstenaars op Instagram soek. Hulle vind ook mense wat studios deel en kan dan dus ‘n paar kunstenaars dophou en navorsing oor hul werk doen. Wüst sê party kunstenaars sal ander kunstenaars vir hulle voorstel, of soms sal hulle kunstenaars hê wat hulle via hul e-pos of sosiale media kontak.

“Die grootste ding is om van die begin af te besluit: ‘Hierdie is die rigting waarin ons gaan beweeg,’ en dan, ongelukkig, nie te veel te compromise nie,” sê Wüst van hul benadering tot watter kuns om in te sluit. Sy sê dit is moeilik wanneer hulle goeie kunstenaars kry wat nie hul groter prentjie en die kuns van die ander kunstenaars komplementeer nie. Dit was vir hulle belangrik om te weet watter rigting en kwaliteit hulle oor die langtermyn wil behou. Kirsten sê dit was nie ‘n maklike besluit nie, want dan moet sekere kuns en kunstenaars uitgesluit word.

Wüst noem dat hulle sowel nuwe as meer gevestigde kunstenaars op dieselfde platform wou sit. Hulle gee vir kunstenaars ook die spasie om hul stories te vertel en hul denkwyse te verduidelik.

Kirsten vertel van een van hul kunstenaars, Daniel Grobbelaar, wat eers hierdie jaar met kuns begin het, maar reeds kuns van goeie kwaliteit lewer. Volgens haar sou ‘n tradisionele kunsgalery hom waarskynlik weggewys het omdat hy nie as ‘n kunstenaar bekend is nie. “Ons kuratorskap gaan nie oor jou as kunstenaar se agtergrond nie, dit gaan oor die werk,” sê sy. Grobbelaar se kuns het tot dusver die beste verkoop van al hulle kuns en twee van sy kunswerke is selfs deur iemand in Duitsland gekoop. “Dit maak ons opgewonde oor die platform, want dis die potensiaal wat dit dra,” sê Kirsten.

“Dis lekker om te weet dat mense nou die geleentheid kry wat hulle nie anders sou kry nie,” sê Wüst. Sy verduidelik hulle kyk ook na of die persoon ernstig is oor hul kunstenaarskap en dit oor die langtermyn gaan volhou. Hulle wil graag ‘n lang pad met kunstenaars stap.

Die aanlynkunsgalery het nie net die meer tradisionele kunsvorme soos skilder en beeldhouwerk nie, maar ook mediums soos tekstiel. Daar is al goeie terugvoer ontvang oor hul meer unieke kunswerke waar die fokus meer op die tekstuur is.

Op die oomblik is hulle besig met die kuratorskap vir ‘n fisiese uitstalling, “Cluttered Hallways” wat vanaf 28 November tot die einde van die jaar by die Dyman Gallery gaan wees. Dit gaan om 11:00 op 28 November van stapel gestuur word met sjampanje, maskers en “goeie kuns en goeie geselskap”, belowe Kirsten. Wüst sê hulle is bly om ook die opsie van ‘n fisiese uitstalling te hê, want dan kan hulle meer mense bereik en daardie geleentheid bied vir die kunstenaars. Kirsten sê hulle kry ook die geleentheid om van die kunstenaars vir die eerste keer persoonlik te ontmoet en ‘n persoonlike verhouding te bou.

Kirsten sê dat hul uiteindelike doel – met sowel die aanlyngalery as die fisiese uitstalling – is om kleur, letterlik en metafories, in mense se lewens in te bring. Dit gaan vir haar oor die vreugde wat mense uit kuns kan put, sowel as om “intensionele diep gedagtes oor iets te kweek” deur kuns te bestudeer. Sy wil probeer om mense “in hierdie kulturele rat race” soms ook net te laat stilstaan en op een ding te fokus. Wüst sê die ideaal is om kuns te vind wat resoneer met jou en wat jy in jou alledaagse lewe kan gebruik.

Wüst is self nie ‘n kunstenaar nie, alhoewel sy baie waardering daarvoor het. Sy kom van Durbanville af en is tans besig met haar vyfde jaar van medies aan die Universiteit Stellenbosch (US). Alhoewel sy sê sy geniet dit baie, voeg sy by met ‘n lag: “’n Mens weet nie eintlik waarvoor jy jouself inlaat alvorens jy begin nie.”

Sy ken vir Kirsten vanaf gr. 10 toe hulle saam in Hoërskool Stellenberg was. Hulle het vir ‘n week saam kuns gedoen in gr.10, maar toe besluit Wüst dat dit nie vir haar is nie. “Ek hou van kuns, maar sjoe, daai mense is baie, baie kunstig,” sê sy.

Kirsten het verlede jaar haar kunsgraad voltooi aan die US en sy het gespesialiseer in houtkerf en drukkuns (print making). Sy doen hierdie jaar ‘n klomp aanlynkursusse wat almal handel oor besigheid en bemarking, wat “heeltemal teen [haar] grein is”, maar tog haar horisonne verbreed. Sy glo nou sulke modules moet deel wees van die kurrikulum vir kuns sodat kunstenaars weet wat om met hul kreatiewe vaardighede te doen.

Sy is in Namibië gebore, maar het na Durbanville getrek en daarna op Stellenbosch beland waar sy haar laaste twee jaar op hoërskool by Hoërskool Stellenbosch voltooi het. Sy sê Namibië het haar kuns beïnvloed met “die rouheid en die droogheid en die leemte van daai never-ending landskap as ‘n dink- en refleksie-spasie”.

“Dit was nog altyd ‘n hartsbegeerte [om ‘n kunstenaar te wees],” sê sy. Sy het egter aanvanklik gevoel dat sy nie goed genoeg was nie en dat haar persoonlikheid nie dié van ‘n kunstenaar was nie. “Dis eintlik in daai plek van swakheid, van voel jy’s nie goed genoeg nie, waar jy eintlik op die ou end opeindig, want dis wat jou die meeste uitdaag,” sê sy. Toe haar familie van ingenieurs en rekenmeesters haar egter ondersteun het om kuns te gaan studeer, het sy geweet dat sy die regte keuse gemaak het.