Bo: Schalk Opperman, nuwe wynmaker van Quoin Rock: “Jy kan nie goeie wyn van slegte druiwe maak nie.”

“Vakmanskap in die wingerd en innovasie in die kelder lei tot wyne wat ons terroir waarlik beliggaam.” Quoin Rock se wynfilosofie, sowel as sy infrastruktuur, hulpbronne en bereidwilligheid om uit te brei, is wat sy nuwe wynmaker, Schalk Opperman, aangetrek het.

“Verder is die span op Quoin Rock energiek en dinamies met groot passie, en nes ek wil hulle groot dinge vermag.”

Opperman se passie vir wyn het reeds op skool begin waar hy die eerste keer kennis gemaak het met die “nektar van die gode” en het later gelei tot ’n BSc-graad in Wingerdbou en Wynkunde wat hy aan die einde van 2005 aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het.

Quoin Rock-wynlandgoed.

Quoin Rock-wynlandgoed.

Sy wynreis het hom later na sommige van Suid-Afrika se top produsente geneem, asook na Kalifornië se bekende Sonoma-wynstreek en Bordeaux in Frankryk.

Opperman, wat ’n passie het vir Bordeaux-kultivars, is onlangs as Quoin Rock, wat teen die hange van die Simonsberg buite Stellenbosch geleë is, se wynmaker aangestel.

“Die Simonsberg het nog altyd ’n spesiale plek in my hart beklee,” sê hy. “As student was my eerste werk op Muratie waar ek wynproeë behartig het. Om dus by ’n kelder hier aan te sluit wat Bordeaux-wyne van top gehalte maak, is ’n groot oorwinning vir my. Dit is welbekend dat terroir ’n groot rol speel in wynmaak, en die wyne van hierdie streek word wêreldwyd erken, soos weer onlangs bewys is deur die 96/100-telling wat die Quoin Rock Red Blend 2015 op die International Wine and Spirits Competition ontvang het.”

Opperman voeg by dat ‘n mens nie goeie wyn van slegte druiwe kan maak nie, terwyl druiwe van hoogstaande gehalte die wynmaker in staat stel om wonderwerke in die kelder te skep, “en dis my missie”.

Wat die Quoin Rock Red Blend 2015 betref, beskryf hy die wyn as watertandlekker. “’n Wyn met komplekse lae donker vrugte, vanielje-eikehout, kakao en ’n titsel potloodskaafsels tipies van die cab-kultivar. Dis ’n groot, gestruktureerde dog elegante mondgevoel wat net aanhou gee. ’n Pragtige uitdrukking van die nuwe-wêreldse prominente vrugte en die ou-wêreldse elegansie.” Hierdie keldertrots is slegs by die proelokaal en aanlyn beskikbaar teen R600 per bottel.

Slegs 12 Suid-Afrikaanse wyne het goud verwerf op die IWSC, en die Quoin Rock Red Blend het die hoogste telling in sy klas aangeteken. Die beoordelingspaneel het die wyn beskryf as een met ’n “delikate en gefokusde neus met swart vrugte en blommegeure. Gekonsentreerde en goed gebalanseerde mondgevoel met ryp tanniene en pragtig geïntegreerde hout. Hierdie is ’n weelderige dog elegante voorbeeld wat kompleksiteit en lengte toon.”

Quoin Rock het diep, geskiedkundige wortels, maar die noodlot, passie, energie en ’n visie het die ou wynlandgoed heeltemal getransformeer. Onder die voogdyskap van die Gaiduk-familie het 2012 ’n nuwe era ingelui. Die familie het nie net die volgende paar jaar in die vernuwing van die landgoed van 200 hektaar belê nie, maar ook in ’n toekoms waartydens besoekers en gaste bekoor sal word deur hul ervarings hier.