Bo: Lynette Phillips (onder, vierde van links) is een van die Stellenbosch inwoners wat deur e’Bosch vereer is vir hul onbaatsugtige werk. Foto: Francois Lombard.

– Elsabé Retief

Kylemore is sedert einde Maart ‘n miernes van bedrywigheid soos inwoners kook en kos gee aan lede van die gemeenskap wat in nood verkeer.

So ‘n onbaatsugtige Samaritaan is Lynette Phillips wat saam met drie ander vroue daagliks soms soveel as 500 mense kos gee.

Volgens Phillips kos dit meet en pas om met donasies van die Dwarsriviervallei – onder meer van Boschendal en Bethlehem – asook Stellenbosch Unite en Stellenbosch Voedingsaksie, al die bakkies te vul wat hande, klein en groot, na haar uithou.

“Ons kook die kos bedags by Ant Siena Charles se huis by Skoolstraat 39,” vertel Phillips. Die nood in Kylemore is nie net as gevolg van Covid-19 nie. Ant Siena het reeds voor die grendeltyd kos gekook vir die gemeenskap. Haar kleindogter, Donique Charles, en Mariana Jacobs help ook vir Phillips om honger mae te vul.

Die spyskaart kan enigiets van sop, macaroni en maalvleis, of broodjies wees, afhangende van wat daardie dag by hulle afgelewer word, of wat hulle self by donateurs gaan haal.

“Ek ry met my karretjie deur Kylemore se strate, en soms skep ek sommer die kos vanuit my kar uit. As dit reën, skep ons van my stoep af.”

Lynette Phillips.

Lynette Phillips.

Vir Lynette strek die voed van mense verder as om net honger mae te vul. “Ek gee ook inspirasie aan mense. Ek het self positief getoets vir die coronavirus en moes sowat twee weke teruggestaan van ons kosgee-aksie. Ek was gelukkig, maar my suster is dood weens die virus.”

Volgens Phillips het mense gekla dat van diegene aan wie sy en haar span kos gegee het, by huisbrake in Idasvallei betrokke was. “Mense is honger, en hongerte judge nie, jy gee kos en hopelik hoef hulle dan nie in te breek nie,” is haar verweer.

Baie van Kylemore se inwoners werk by die pakstoor of by Boschendal en Zorgvliet. Weens die inperkingsmaatreëls het hulle nou nie werk nie, en maatskaplike toelaes is nie genoeg om almal te voed nie.

Phillips en haar motor in die strate van Kylemore, met die kospotte in haar kattebak, is ‘n bekende gesig en ‘n welkome uitkoms vir mense, veral vir mense wat hard getref is deur die virustyd. Terselfdertyd het haar verbintenis met donateurs hulle ook meer betrokke gemaak by die wel en wee van die Kylemore-gemeenskap.