Bo: Ster en die Skugter Vyf is ‘n kinderboek deur Henriëtte Linde-Loubser en die illustrasies is deur Elizabeth Pulles. Foto: Nicolaas Snijman.

– Lia Snijman

Ster en die Skugter Vyf is ‘n kinderboek wat jou herinner aan die ou verhale wat ‘n oupa of ouma vir jou vertel het, of wat in ‘n boek vol ou feëverhale sou verskyn. Tog het dit ‘n baie moderne boodskap – red ons diere en die res van die omgewing.

Henriëtte Linde-Loubser is die skrywer van hierdie kinderboek en bly op Stellenbosch. Sy het haar PhD in Omgewingsopvoeding aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en dit het haar sterk beïnvloed om hierdie boek met sy bewaringsinslag te skryf.

“Ek het na al my navorsing en die uiteindelike skryf van my proefskrif gewonder hoe ek hierdie kennis kan terugploeg. Ek wou op die beste manier waartoe ek in staat is vir kinders vertel van ‘n liefde vir en ‘n verwondering oor die natuur. Ek wil steeds met hulle dit deel wat ek ontdek het, maar saam daarmee ook dit wat ek as kind kon ervaar. Die beste manier vir my om as omgewingsaktivis op te tree, is deur die geskrewe word,” sê Linde-Loubser.

Haar boek is egter nie net op kinders gemik nie, maar hul ouers en onderwysers ook. Sy hoop dat hulle dit as ‘n opvoedkundige hulpbron sal kan gebruik, want sy glo dat kinders leer deur te speel en te lees.

Sy glo dat mens nooit te vroeg kan begin om met jou kinders oor omgewingskwessies te praat nie. “Jou voorbeeld as volwassene wat die natuur waardeer, liefhet en bewaar, is so ontsettend belangrik vir ons kinders. Van baie kleins af reeds kan daar by kinders hierdie verantwoordelikheid van die mens, sy rol as bewaker van die natuur, beklemtoon word. Kinders is van nature lief vir die natuur, ons moet dit bly ontwikkel en in stand hou, sodat hulle uiteindelik as verantwoordelike burgers van die planeet kan leef,” sê sy.

Die boek open met die aanhaling van Linda Tucker: “Nature is magical and magic is natural.” Dit lei die lesers mooi in by die verhaal wat pratende diere het wat met ons protagonis, Ster, praat. Die boek het egter ook feite oor die diere ingewerk, en selfs ‘n lysie van feite oor elke dier van die “Skugter Vyf” aan die einde van elke hoofstuk.

Linde-Loubser verduidelik dat sy graag wou gehad het kinders moet beide hierdie elemente ervaar. Dit was vir haar belangrik dat die feite in haar boek korrek is en sy wou nie ‘n “vermensliking” hê nie, maar sy wou graag ook “die krag van die verbeelding benut en die magiese elemente van die natuur wys”. “Die waarheid, of dan feite, is belangrik, maar mites en legends hou die oerou waarhede in. Die magiese is wat die kreatiwiteit in ons as mens stimuleer,” voeg sy by.

“Die natuur met sy diere en plante is dikwels vir die mens vreemd, daar ver en selfs iets om te vrees. Tog is ons so deel, so vervleg met die natuur, dat die een nie sonder die ander kan nie. Juis hierdie geheimenisse, hierdie ‘magic’ van die natuur, moet aan kinders uitgewys word, sodat hulle dit kan koester,” sê sy.

Sy sê haar skryfstyl kom vanself en word waarskynlik deur haar liefde vir klassieke kinderboeke aangemoedig. Sy hoop dat haar boek dus tydloos sal kan wees. “Verder moet ek dalk noem dat ek maklik nostalgies oor die natuur kan raak en dit manifesteer dalk in my skryfstyl!”

Linde-Loubser noem dat sy baie bevoorreg was “om van baie klein af baie na aan die grond groot te word”. Sy het gereeld vir haar grootouers op hul plaas gaan kuier. “Ek het ‘n liefde vir die natuur, vir die natuurlike omgewing en vir diere ontwikkel wat deel van my sal bly. Verder het ons as gesin elke tweede jaar, vandat ek kan onthou, wildparke en wildtuine besoek. Daardie gevoel van in die natuur wees, van deelwees van die magiese wêreld van die bos is iets wat my nog altyd totaal kon oorrompel,” sê sy.

Sy kom oorspronklik van die Klein-Karoo af, maar bly nou al vir meer as veertig jaar op Stellenbosch. “Stellenbosch bekoor met sy berge, groen geilte en klimaat. Die feit dat die see naby is, maak dit sommer nog beter,” sê sy.

Sy bedank haar illustreerder, Elizabeth Pulles, wat die karakters “fantasties uitgebeeld” het. Pulles, wat in Melville woon, se swart-en-wit illustrasies is orals deur die boek te vinde. Sy het gemengde media gebruik om al haar beelde te skep, naamlik gouache verf en houtskool, sowel as pastel en akwarel potlode en kryte.

“Dit was belangrik om die diere en hulle omgewings goed te bestudeer, dan hulle persoonlikhede en voorkoms van daar af aan te pas vir ‘n oorwegend lewensgetroue resultaat, maar met meer ekspressiewe kwaliteite om hul een-tot een vriendskap met Ster uit te beeld,” sê Pulles.

Aangesien die boek in die aand afspeel, is die swart-en-wit illustrasies gepas, maar Pulles bieg dat dit ‘n risiko was om by tye die illustrasies so donker te maak, “maar ek het probeer om ‘n magiese atmosfeer te verkry, asook atmosfeer, deur lig na baie diep toonwaardes te gebruik, sonder om te veel detail te verloor”. Sy voeg by: “Ek dink die interessantheid kom uit die speling met toonwaardes, die karakterontwikkeling en die komposisie van die illustrasies, waar ek naby en diep gegaan het met perspektief, om die omgewing te beskryf.”