Bo: Hoe definieer ‘n mens ‘n held?

– Hilton Biscombe

Ek glo nie in heldeverering nie, maar om erkenning te gee aan helde is heel iets anders. Gesien uit ‘n sekere perspektief, sal ‘n heldefiguur seker maar jou bepaalde lewensuitkyk ondersteun. As hy (dis altyd ‘n hy, alhoewel dit nou vinnig besig is om te verander) jou glowyse beaam, is hy in jou oë ‘n held, maar nie noodwendig in myne nie.

Eintlik gaan dit nie om helde nie, maar om jou bestaan en ruimte te regverdig wat natuurlik seker jou reg is in hierdie tye van die demokrasie.

In my jonger dae het ons ‘n speletjie gespeel genaamd “Follow the leader” wat seker waar is, as jy jou wil laat lei, maar dit kan ook illustreer hoe die ego jou vang as jy nie kan onderskei tussen ‘n held en goeie leiers nie.

Helde is mensgemaak wat in die oomblik van tyd vasgevang en vereer word. Leiers word gebore, maar ontdek dit eers as hulle gekonfronteer word met ‘n krisis wat ‘n bedreiging vir oorlewing vir die mensdom inhou.

In albei gevalle kan dit ons fanaties maak, maar in beide gevalle kan dit ons inspireer om eie hoogtes te bereik.

Donald Trump is ‘n goeie voorbeeld van ‘n held vir sy ondersteuners as hy ongemaskerd die noodlot uittart teen die beswil van die korpsgees en belange van die hele bevolking ongeag ras, kultuur of godsdiens. Dis egter tydelik as die geharwar van die groot mompel soos ‘n goeie pop song oornag verdwyn.

Ek’s bevrees as hierdie kêreltjie dit nie gaan maak by die verkiesing nie, gaan die fanatiese aandrang van sy onderlinge lei tot burgeroorlog. God behoede ons!

Ghandi was ‘n leier, alhoewel baie hom sien as ‘n held en dit ook so deur sy ondersteuners verkoop word. Maar dit was nie waarvoor hy gestaan het nie, of waarvoor hy hom beywer het nie. Hy wou verseker dat die beginsel van regverdigheid en reg uitgeoefen word.

Sy vernaamste “wapen” was die beginsel van Ahimsa (do no harm) wat dus beteken dat jy in vrede, ongeag of die bedreiging van jou lewe wat op die spel is, as’t ware dit op die altaar plaas vir ‘n saak wat belangrik is vir die wêreld en deur tyd en eeue nog kan staan.

Doodmaak en wapens is taboe en deur dit is sy land geweldloos bevry van die Britte wat sy land beset het en wou beheer het, ten koste van die inheemse bevolking.

Ironies is hy om die lewe gebring deur dieselfde volgelinge wat hom gesien het as ‘n held.

Ek glo dat Jesus dieselfde pad gevolg het, omdat hy nie die sogenaamde “orde van die dag” kon volg nie. Dit was teenstrydig met die beginsel van die lewe waarvoor hy moes boet. Baie sien hom vandag nog as ‘n held, waarmee ek verskil, want hy was/is baie meer as dit.

Beelde van helde is klipkoppe wat êrens op ‘n terrein staan, soos by die Universiteit Stellenbosch waar ons elke Sondag destyds raakrugby gespeel het met ‘n standbeeld van ‘n “wit held”, in ons geselskap, wat heeltemal stom op ons sou neerkyk, toe Fanie, my tjommie, rats soos ‘n tuingeitjie al klouende teen die beeld op sou klim om bo-op sy kop te sit en uitdagend te skree dat hy die ou se baas is.

Ek weet, glo my, ek weet, as dit vrae ontlok oor identiteit. Hoe durf hy! Daai tyd was dit ‘n gevaarlike stance as baie hierdie beelde sou aanbid asof hulle gode is, wat beheer het oor alles wat ons dink en doen. Vir ons was dit ‘n totale weerstand wat in ons kon opwel as ons na die bevoorregtes in ons dorp kyk.

Die feit is, ons het dit begin glo, as ons ouers, en by impikasie, die gemeenskap stories oor ons bestaan vertel. Hulle kon nie anders nie. Hulle wou hê dat ons die line moet toe, of wil beskerm, anders gaan ons net soos Mandela tronk toe. Ons is nie eens toegelaat om sy naam te noem nie. Dit was egter nie net ‘n ouer-ding nie.

In die strate van ons dorp is ons herinner aan die wet wat die bevoorregtes moes beskerm. Natuurlik was daar ook die wit “gestremdes” wat hul bekke moes hou, anders ja, sou hulle dieselfde pad stap. Maar hulle was in die minderheid wat kan vergelyk kan word met ‘n meerderheid van een.

Beelde gaan selfs sover om geskiedenishelde voor te hou, net om ons te kry om in hul helde en in hul filosofie te glo. (Somehow, sal ek die boek van The lie of 1652 in die hande moet kry).

Maar, wat dit egter toelaat nou, is ‘n mindset wat suiwer bloed, wat eintlik maar ‘n mite is, voorhou as ‘n teenvoeter of beter gestel as ‘n voorwaarde vir ‘n bestaan. What nonsense!

Soos met die voorvaders van die huidige koninlike huis wat soos ‘n klomp Jannemanne hulle eie koninkryk met die honger sekslus van wolwe, hul wilde oats oor hul magdom gesaai het, om die volk te “beswadder” met ongehudes wat ons sommer losweg vandag loskinners noem.

Met dit is dit nodig om ons kennis te verbreed anders word jy met liegstories beheer.

Die Ooste wat vir die meeste van ons ‘n vreemde wêreld is, is ’n misterie, as ons ons pensioen-geld uiteindelik kan gebruik om ‘n toer na hierdie geweste te neem d.w.s. as ons gewillig is om ons oorsprong as mens te ondersoek. Die Covid loop ook hier, so sal ons maar ons maskers moet dra, en dit sal nie help om dit oor ons oë te plaas nie. Die waarheid is ooglopend. Al wil die oë dit nie sien nie, bruis dit deur ons are as ons verneem van legendes en slagvelde met slawe op die voorgrond om hul konings te beskerm.

Dit sal raadsaam wees as ons ook kan sien hoe die rykdomme van magtige mense tot sand deur die eeue verklaar is, veral in Egipteland waar rykdom nie eers gemeet kan word nie. Als wat glinster issie gouttie…

Ja, met my geld kan ek seker die backyard dwellers hier in Stellenbosch besoek. Die storie bly dieselfde, ongeag in wat jy glo!

Wat ek eintlik wil sê is dat beelde en ou geboue met die verloop van tyd verkrummel, maar dat leierskap wat die hoë orde van die lewe beaam, bly voortlewe in mense se harte. G’n wonder dat iemand soos Martin Luther King na gemeenskap verwys het as the beloved community, want hy kon nie anders om die waarheid te erken dat hierdie beginsel vir altyd moet staan.

The renmants of Apartheid is still alive albeit in images that reminds you of more desparate times today!

Laat my dus toe om af te sluit met die woorde van Herman Mellville:” We cannot live for ourselves alone. Our lives are connected by a thousand threads, and along these sympathetic fibers, our actions run as causes and return to us as results.”

Sekerlik mag jy jou helde hê. Wees net versigtig dat jy hulle nie verafgod nie. Dis dan dat die ego van jou eie wêreld houvas kry met ‘n hansie wip-wip-wip en met jou soos ‘n lappop wil speel en jy gelate dit toelaat omdat dit blykbaar sin maak.

Bogenoemde woorde van hierdie vermaarde skrywer beklemtoon die konneksie met gemeenskap, wat sekerlik moet saamloop met goeie leierskap. Wat egter problematies is, is as ons sien hoe ons gesplete ruimtes elders moes vind as gevolg van ‘n stelsel wat alles wou baseer op die kleur van jou vel.

Vandag is dit dieselfde as manne jou taal praat en jy met vlaggie innie hand ja en amen skree met die snert wat te styf in jou onderbroekie pas…

Vir my dus, vind ek dit in die gemeenskap van my hart wat in akkoord is met diegene wat dieselfde lewensbeskouing het en dus my erkenning van helde deel, maar nooit aanbidding nie.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.