Bo: Daniël Briers-Louw by die SASAPD nasionale kampioenskap.

– Lia Snijman

Daniël Briers-Louw (19) hardloop al vanaf 13-jarige ouderdom, maar het eers op 16 begin met para-atletiek en tog is hy nou besig om reg te maak vir sy eerste Paralimpiese Spele.

Hy hardloop in die 400m-item in die T13-kategorie omdat hy net ongeveer 10% sig het. Sy visuele gestremdheid word veroorsaak deur retinitis pigmentosa. Dit is ‘n genetiese siekte wat gewoonlik in ‘n mens se kinderdae begin wys en wat oor die algemeen geleidelik vererger. Briers-Louw het dit al egter van geboorte af.

Hy was in Paarl Vallei op skool en studeer nou sy LLB aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy behoort teen Junie 2021 finaal te weet of hy beslis gaan kwalifiseer vir die Paralimpiese Spele, maar hy beplan reeds om ook in 2024 en 2028 deel te neem.

Hy het gemengde gevoelens oor die Paralimpiese en Olimpiese Spele wat aangeskuif is van 2020 na 2021. “Ek is baie jammer vir al my oefenmaats wat hierdie jaar op goeie vorm was en wou aftree, maar op ‘n selfsugtige noot kon ek vir niks beter gevra het nie. Ek is nog baie jonk en het nog baie om by my oefenmaats te leer, so die ekstra jaar met hulle is goud werd. Dit het my ook ‘n geleentheid gegee om ‘n goeie basis in die gym te bou en kilometers in my bene te kry,” sê hy.

Briers-Louw is ‘n veelsydige jong man, want sy grootste sportprestasie is nie eens in atletiek nie. Voordat hy aan para-atletiek begin deelneem het, was hy ‘n stoeivegter. “My trotste oomblik sal altyd my eerste goue medalje by die SA stoei-kampioenskappe wees,” sê hy.