Bo: Kerwin Noemdo in Germiston 2019.

– Lia Snijman

Kerwin Noemdo (26), ‘n gewigstoot-atleet, fokus op die oomblik al sy energie en tyd daarop om in 2021 na sy eerste Paralimpiese Spele te gaan.

Hy is wel geen vreemdeling vir internasionale kompetisies nie – hy het vanaf 2017 tot 2019 die Wêreldkampioenskappe bygewoon. Daar neem hy deel aan gewigstoot en diskus. Deesdae fokus hy egter meer op sy gewigstoot aangesien diskus nie ‘n item is wat beskikbaar is vir sy klassifikasie tydens die Paralimpiese Spele nie.

Hy is deel van klassifikasie F46, dus almal wat een arm het wat geamputeer is of wat dieselfde vlak van vaardigheid het, byvoorbeeld iemand wat albei hul arms het, maar die een funksioneer nie.

“Ek is ‘n onder-elmboog amputee op my regterarm,” sê Noemdo. “My naelstring het om my gewrig gegaan terwyl ek nog in my ma se maag was,” verduidelik hy en voeg by hoe dit gelei het tot sy regterhand wat onderontwikkel is. Hy het geen beweging gehad in daardie arm nie en daar is ‘n paar maande na sy geboorte besluit om dit te amputeer. “Ek weet nie regtig hoe dit voel om ‘n regterhand te hê nie,” sê hy.

Noemdo is relatief jonk vir ‘n gooier en sê hy dink hy sal waarskynlik op sy beste wees in terme van prestasie in 2024. “Ek sal graag nog wil deelneem,” sê hy, maar noem ook dat dit van baie faktore afhang, soos of hy ‘n inkomste of borgskap kan kry. “In Suid-Afrika kan jy nie regtig op hierdie oomblik ‘n lewe uit para-sport maak nie,” sê hy.

Hy sê hy is op die ouderdom waar mense moet dink aan hul loopbaan. Hy het sy BSc Honneurs in bewaringsekologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi. Hy beplan om volgende jaar ‘n nagraadse diploma aan die US aan te pak. Vir nou probeer hy egter ‘n voltydse atleet wees.

Dit was aanvanklik vir hom moeilik toe hy gehoor het dat die Paralimpiese Spele uitgestel is na 2021, want hy neem al vanaf 2012 die sport ernstig op, dus is dit nou al ‘n agt jaar lange reis vir hom. Hy kon nie in 2016 deelneem nie, want gewigstoot en diskus was albei nie beskikbaar in sy klassifikasie nie.

“Maar nadat ek bietjie gedink het en afgekoel het, weet ek dit was die regte besluit. Die atlete se gesondheid en die publiek se gesondheid en welfare kom eerste, en dit was die regte besluit,” sê Noemdo. Hy sê dat al die atlete maar in dieselfde bootjie was en moes aanpas hierby. Hy noem dat dit darem vir hom “nog tyd [gee] om aan [sy] sport te werk en aan [sy] tegniek”.

Hy het al die standaarde bereik wat nodig is om te kwalifiseer vir die Paralimpiese Spele vir 2021, maar sal nog moet wag om te hoor hoeveel plekke Suid-Afrika gaan kry om mense te stuur. Hy sal eers teen volgende jaar in Junie amptelik weet of hy in die span is. Hy sê alhoewel hy weet min of meer hoe ver hy moet gooi om te verseker dat hy in die span is, gaan hy nie daarop staatmaak nie en aanhou oefen.

Vir Noemdo is daar nie een spesifieke sportprestasie waarop hy die trotste is nie, maar daar is ‘n paar wat uitstaan. In 2011 het hy aan die International Wheelchair and Amputee Sports Games in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem en dit was die eerste keer wat hy sy SA-kleure gekry het. Hy sê die drie wêreldkampioenskappe waaraan hy deelgeneem het, het hom ook baie trots gemaak, want hy het die geleentheid gekry om sy land te verteenwoordig.