Bo: Gerard de Jong en Margreet Spoelstra saam met die berader, Sara van Tonder. Hulle het in Maart van Nederland af gekom op besoek en is ondersteuners van Van Tonder se tuin-projek.

– Mariëtte Odendaal, mediabestuurder: Goeie Hoop Sielkundige Diens

Sara van Tonder, een van die beraders by Goeie Hoop Sielkundige Diens (GHSD), met ’n MTh in kliniese pastorale sorg, is veral bekend vir haar terapeutiese werk met slagoffers van trauma.

Maar voordat sy by GHSD aangesluit het, was sy eers ’n aantal jare ’n entomoloog waar sy by die National Collection of Insects op die gebied van taksonomie gewerk het en ook ’n paar nuwe spesies bruchidae (insekte) beskryf het.

Nadat sy die wêreld van insekte verlaat het, het sy by SA Breweries, (SABMiller), aangesluit waar sy studentebrouers geleer het hoe om bier te maak. Terwyl sy by die opleidingsafdeling van SABMiller was, het sy in sielkunde begin belangstel en begin werk om haar as terapeut te bekwaam.

Tans doen sy kosbare werk as traumaterapeut deur veral die psigiatriese ondersteuningsgroep wat oor die jare ‘n besondere tuin, genoem The Garden – Place of Reflection and Healing, ontwikkel het. Hierdie kreatiewe tuin met sy simboliese betekenisse is by die TC Newman Gemeenskapsgesondheidskliniek in die Paarl geleë en beeld die trauma van verkragting en die daaropvolgende terapeutiese helingsproses uit. Hierdie unieke tuin verbeeld nie net die trauma wat verkragtingslagoffers ervaar nie, maar dit neem ook die persoon na ’n plek van heling en gebed.

Sara van Tonder.

Sara van Tonder.

Die labirint in die tuin.

Die labirint in die tuin.

Maar hoe kan slagoffers van hierdie diens gebruik maak? Hoe weet hulle daar bestaan so ’n besondere diens? Sara antwoord: “Ons kry verwysings van die ongevalle-afdeling van die Paarl-hospitaal, FCS (Family Violence, Child Protection and Sexual Offences), die nasionale vervolgingsgesag, mediese dokters, maatskaplike werkers en persone wat self kom aanmeld.”

“Trauma kan meestal verdeel word in akute of kroniese trauma. Die verwysings wat ons ontvang, gee gewoonlik ’n aanduiding van die tipe trauma wat die kliënt ervaar het, maar dikwels nie of PTSD (post-traumatic stress disorder) alreeds ontwikkel het of nie.”

“Die tipes trauma wat GHSD baie sien, wissel van verkragting en poging tot verkragting (wat dikwels net so traumaties as verkragting is) tot ’n familielid wat vermoor is, selfdood, familielede wat in ’n brand omgekom het, gewapende roof, mense wat motorongelukke oorleef het en ontvoering,” vertel Sara. “Die persoon self, of naasbestaandes van die slagoffer, kom dan vir hulp.”

“Van die moeiliker gevalle om te hanteer, is wanneer die slagoffer van die oortreder in dieselfde gesin of familie is. Die nagevolge van selfdood is ook moeilik wanneer die naasbestaandes nie verstaan waarom dit gebeur het nie, of nie vrede daarmee kan maak nie.”

Hoe gaan ’n berader te werk om hierdie getraumatiseerde mense te help genees? Sara antwoord: “Dit hang van baie aspekte af, byvoorbeeld: Hoe lank gelede het die gebeure plaasgevind? Is die persoon in ’n toestand om oor die gebeure te praat? Is die persoon op ’n veilige plek of moet daar eers die hulp van ’n maatskaplike werker gekry word?”

“Daar moet natuurlik eers ’n vertrouensverhouding tussen terapeut en kliënt ontstaan voordat die helingsproses vorentoe kan begin beweeg. Daar moet ’n veilige ruimte vir die kliënt geskep word.”

Op die vraag oor van watter terapeutiese tegnieke sy gebruik maak, antwoord sy soos volg: “Ek evalueer eers die kliënt en besluit dan watter metodes ek in die spesifieke geval moet gebruik. Ek gebruik narratiewe terapie, CISD (critical incident stress debriefing), EMI (eye movement integration) of sandplay-terapie. Die verskillende metodes word afgewissel na gelang van die kliënt se vorderingsproses.”

“Mense gaan deur verkillende fases na hul traumatiese ervaring. Hulle vra vrae soos: ‘Hoekom het dit met my gebeur?’ Daar is dikwels ’n ervaring van onwerklikheid, dat dit nie werklik gebeur het nie. Hulle is dikwels ook kwaad vir God. Angs dat die oortreder gaan terugkom, is algemeen teenwoordig.”

“Slagoffers van trauma ervaar ’n wye verskeidenheid van emosies en nie noodwendig in ’n spesifieke volgorde nie. Woede is ’n emosie wat baie algemeen onder slagoffers voorkom. Hulle is kwaad vir die aanvaller, die dokters, die gereg en ook vir hulself. Hulle verval soms in depressie en ervaar dan ’n gevoel van totale magteloosheid.”

“’n Ander emosie wat hulle ook kan ervaar, is haat. Die peroon is só kwaad, dat hulle sélf wil wraak neem. Hierdie fase is baie gevaarlik, aangesien mense dikwels die gereg in eie hande wil neem. Tydens die emosie van verlange ervaar die kliënt intense hartseer aangesien die verlange na die ander persoon of ’n afwesige lyf soms oorweldigend is. Die emosie van vrees kan soms veroorsaak dat die kliënt ’n kluisenaar word uit vrees dat dit wat gebeur het, weer sal gebeur. Die gevoel van gebrokenheid veroorsaak weer dat die kliënt voel dat hy of sy nooit weer sal kan genees nie. Die traumaterapeut bied vir die kliënt ’n veilige spasie ten einde die verskillende emosies te kan verwerk en daar uiteindelik by die fase van aanvaarding uitgekom kan word.”

“Tydens die helingsproses word die kliënt voordurend geëvalueer of mediese of ander intervensie nodig mag wees. Indien nodig, word die persoon dan verwys.”

“Goeie Hoop verskaf nie forensiese – of hofverslae nie, maar ek het wel by geleentheid impakverslae oor die effek wat die trauma op die kliënt gehad het aan die streekhof verskaf. Dit dra dikwels daartoe by dat die hof ’n beter begrip het van waardeur die slagoffer moes gaan, en speel dus ’n rol by die vonnisoplegging van die oortreder.”

Kontak Sara van Tonder by papiro2@mweb.co.za vir meer inligting.