Bo: René van Rooyen op die stel van Toorbos in die Knysnawoude. Foto: Fathom Media.

– Danie Keet

‘n Inwoner van Jamestown, René van Rooyen, is die groot dryfkrag agter die nuwe rolprent Toorbos, wat eersdaags in teaters begin draai.

Toorbos, ‘n verwerking van die ikoniese Dalene Matthee se topverkoperroman, is een van die eerste plaaslike films wat sedert die inperking in rolprentteaters gewys word.

Die verhaal volg die lewe van Karoliena Kapp soos sy verbind word tot ‘n huwelik met Johannes Stander, die realiteite van ‘n selfgerigte, geldsoekende samelewing en die onderdrukking daarvan, en kykers beleef wat dit van haar gaan vat om getrou aan haarself te bly.

Omdat die rolprent ‘n betowerende ervaring beloof, het die vervaardigers en verspreiders gevoel dit is ’n moet om te wag tot gehore weer films op die grootskerm kan beleef. Die rolverdeling sluit in Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams, Gretschen Ramsden en meer, met Brendan Barnes as kinematograaf.

Danie Keet het by Van Rooyen gaan kers opsteek oor haar ervaring van die Knysna-bos, hoe sy Dalene Matthee se nalatenskap ervaar het en hoe sy die karakters se voetspore deur die bos gevolg het.

Danie Keet (DK): Hoe was dit om in Dalene Matthee se voetspore deur die bos te moet stap en haar woorde in beelde te omskep?
René van Rooyen (RR): Ek het die boek in 2012 gelees en kort daarna besluit om dit in ‘n film te ontwikkel. Ek het self ook baie in die Knysna-bosse tussen daardie tyd en verfilming gaan stap om die ideale plekke te vind om in te skiet. Soos met die boek, is daar iets magies en betowerend om aan ‘n Dalene-pronkstuk te werk, veral Toorbos, omdat ons dit diep binne die Knysna-woude verfilm het. Ons was vir weke van die buitewêreld afgesny en met geen selfoonontvangs, moes ons kameras dra deur nou, donker bospaadjies en nat reënweer – dit was ‘n grondverskuiwende ervaring.

DK: Hoe moeilik was dit om Karoliena se verskeurdheid tussen die lewe in die bos en haar menslike liefde uit te beeld?
RR: ‘n Groot deel van daardie dinamiek word in die film ontdek. Ons het op sowel die stelle as met die kostuums hierdie twee wêrelde verken. In die dorp is die mure glad, eentonig, koud en kaal, en in die bos is die teksture warm, die huise oop en daar is ‘n sterk verbintenis tussen die mens en die natuur. Kostuums het ook bygedra – die bosklere was organies, warm en herfskleurig, met growwe teksture, terwyl die dorpsklere, ook tipies van die 1930’s, baie gestruktureerd, noupassend, met hoede en hakskoene was. Alles is so ontwerp om ‘n mate van gemak-ongemak vir die karakter tussen die bos en die dorp uit te beeld.

DK: Wat was dit Dalene se boek wat jou geprikkel het om dit in ‘n film te omskep?
RR: Ek is diep geraak deur Dalene se eerlike vertelling van ‘n jong meisie wat binne haar huwelik groot word. Geskeur tussen haar liefde vir haar man en haar eie ideale, het die verhaal vir my ‘n baie oorspronklike ontdekkingstog van ‘n jong vrou weerspieël. Daarmee saam is die tydperk se sosio-politieke konteks interessant – dit is die laat 1930’s en die begin van die groot Carnegie-ondersoeke en die bou van ‘n nuwe Afrikaner-identiteit. Die groter wêreld in Toorbos het vir my ‘n baie belangrike universele tema ondersoek, dié van ons verhouding met die natuur, wat al hoe dringerder raak om aan te spreek.

DK: Is hierdie verskeurdheid vandag nog relevant – dit is waarskynlik toepasbaar op die “gewone” mense?
RR: Dit is nou nog meer relevant as ooit – veral in ons verhouding met die natuur en daardie konflik tussen ekonomiese vooruitgang en bewaring. Soos wat die film ontplooi, kyk Toorbos na die impak wat ons as mensdom op die omgewing het. As die gehoor dieper kyk, sal hulle sien dat dit nie slegs ‘n liefdesverhaal is nie, maar twee mense wat aan beide kante van die argument staan van tussen die omgewing en ekonomiese vooruitgang en watter waardes binne hierdie argumente vir hulle belangrik is. Buiten dit speel dit tydens ‘n baie unieke tydperk in Afrikaner-geskiedenis af – dié van die groot armblanke-vraagstuk en die Carnegie-ondersoeke. Dit bekyk die rol tussen die magtiges en ontmagtigdes, wat in hierdie geval, nes die natuur, uitgebuit word.

DK: Is daar enige groot lesse wat mens uit Karoliena se reis leer?
RR: In sy kern is dit ‘n mooi liefdesverhaal, maar as ‘n filmmaker kyk ek altyd na stories wat binne ‘n groter sosio-politieke konteks afspeel en of dit die gehoor die geleenheid bied om hul wêrelduitkyk te verander. Karoliena was altyd vir my ‘n interessante karakter, in hoe die “vroulike” binne haar uitgebeeld en ontdek word. Sy leer om op te staan vir haar unieke uitkyk en argumente binne haar verhouding met haar man – die groter konteks.

DK: Hoe moeilik was die verfilming – vertel bietjie van die omstandighede waaronder julle moes werk – in die bos, uitdagings, gevaarlike en/of komiese insidente?
RR: Wat dit uniek gemaak het, is dat ons baie van die tonele diep in die Knysnabosse verfilm het. Ons was vir ‘n maand van die buitewêreld afgesny, met geen selfoonontvangs nie. Met dorpe en huise wat in die bos gebou is, karre moes ingesleep word – dit was ‘n spesiale ervaring vir die span. Daar was tye wat van die crew vir my moes briewe skryf om boodskappe by my uit te kry – omdat kommunikasie so moeilik was. Dit was koud en middel-winter en baie modderig. Die enigste werklike moeilike week met die weer was die dorpstonele in Mcgregor, waar dit nooit reën nie. Hulle het gesukkel met ‘n vreeslike droogte. Die week toe ons daar arriveer, het die donderstorms uitgebreek!

DK: Hoe uitdagend was dit om die verband tussen die liefde vir die eenvoudige (die bos-lewe) en die soeke na meer gerieflike (geldelike) gemak van die stad vir Karoliena sou inhou uit te beeld – en haar innerlike verskeurdheid hieroor?
RR: Ons volg vir Karoliena vanaf ‘n baie jong ouderdom – van 17 jaar – tot en met 26. Aanvanklik – soos baie van ons – word sy verblind deur die geleenthede wat die geldelike omgewing haar bied, maar met dit verruil sy haar vryheid vir ‘n kou. Dit het ons uitgebeeld deur die keuse van huise, die gestroopte, kaal, koue mure – die glasvensters, die klanke van die dorp, waar daar geen voëls gehoor kan word nie – meestal net karre en blaffende honde – die klere, wat uit ongemaklike hakskoene, hoedjies en styf, noupassende rokpakkies bestaan het – die mense, wat almal eenders is teenoor die bos waar alles vry en vloeiend was.

Die musiek speel ook ‘n groot rol en die klankbaan is geskep om in die bosareas ‘n growwe, amper disharmoniese gevoel te gee. Instrumente is vrylik en sommer grof gespeel, insluitend die konsertina, beklfuitjie en viola, om ‘n egtheid aan die rouheid daarvan te demonstreer. Ons het verskillende klanke gebou wat nie binne die normale konstruksies van musiekkomposisie gevind kan word nie. Die klankbaan van die bos bestaan uit bottels wat geblaas word, die wind wat opgeneem is, die “asem” van die konsertina soos hy lug uitblaas en allerande vreemde organiese elemente wat ons reguit uit die boswêreld self kon trek.

DK: In Jamestown is daar ook baie ontheemde mense – is daar ‘n verband tussen hulle (en ander in soortgelyke omstandighede elders in die land) en die bosmense se gedwonge verskuiwing uit ‘n omgewing wat hul lewens vir soveel jare was?
RR: Ja, die storie speel af in die tyd van die laaste bosbewoners van die Knysnawoude voor hulle na Karatara verskuif is. Terwyl ons vandag nie gedwonge verskuiwings het nie, ervaar ons dit deur gentrifikasie – ryk, gevoellose eiendomsontwikkelaars wat in gemeenskappe inkom en geld en mag misbruik om hoëdigtheidskomplekse en besighede binne die rustige residensiële dorpies te bou, is iets wat ons op ‘n daaglikse basis in Jamestown moet beveg.

Hierdie impak op hoër belastingtariewe, veiligheid, ensovoorts, veroorsaak dat baie eienaars later “gedwing” word om na elders te trek. Gelukkig het ons ‘n sterk belastingbetalersvereniging en erfeniskomitee wat nou hard saamwerk om die regte van Jamestowners te beskerm.

DK: Watter lesse leer Karoliena vir ‘n mens oor die lewe en wat het jy by Karoliena oor die lewe geleer?
RR: My aanvanklike aantrekking tot haar karakter is binne die warboel van die tyd waarbinne sy haar bevind. Onder die druk wat sy ervaar om haarself en haar waardes te verander, kan sy nie anders as om elke keer terug te val op haar eie unieke waardesisteem nie. Ek dink ons bevind onsself dikwels in daardie grys area – waar ons gedwing word om die lewe as swart-en-wit te ervaar, maar teen wil en dank nie daarmee kan konformeer nie. Karoliena wys die waarde wat daarin skuil om jou eie selfgeloof op te bou en sterk te staan in jou standpunte. Veral vir ‘n jong meisie van die 1930’s is dit merkwaardig.

Toorbos, gebaseer op die vierde roman van Dalene Mattee se suksesvolle reeks bosverhale is ‘n oorrompelende liefdesdrama. Die film vertel die storie van Karoliena Kapp, ’n vrou met ’n intieme liefde en verbintenis met die bos. Toorbos is vervaardig deur die bekroonde rolprentmaker, André Scholtz en sy seun Dries Scholtz van The Film Factory, onder leiding van die draaiboekskrywer en regisseur, René van Rooyen.

Toorbos ondersoek die ontworteling van ‘n jong bosvrou in die tyd van die laaste bosbewoners van die Knysna-woude van die 1930s. Dit is die storie van ‘n ingewyde “bosvrou” Karoliena Kapp se intieme verbintenis met die boomhart van die bos. Wanneer sy egter die man van haar drome ontmoet, veroorsaak hierdie einste bekoring ’n liefdesdriehoek wat dreig om haar uitmekaar te skeur wanneer sy moet kies tussen trou en dorp toe trek, of agterbly in die plek waar sy veilig voel. Die besluite wat sy neem, lei tot ’n onvergeetlike avontuur van innerlike konflik, verandering, aanvaarding en, bowenal, liefde.

The Film Factory is aan die stuur van produksie van Toorbos, en die film word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. Die rolverdeling sluit in Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams, Gretschen Ramsden en meer, met Brendan Barnes as kinematograaf.

Toorbos het die toekenning gewen vir die ‘Works in Progress (WIP)’ program by die Kaapstad Internasionale Mark- en Rolprentfees (CTIFMF) in 2018. Die film is gekies as een van vyf rolprente uit 54 inskrywings uit 15 Afrikalande. In 2019 is Toorbos gekies as die sluitingsfilm by die 9de kykNET Silwerskermfees. Toorbos is moontlik gemaak deur die ondersteuning van kykNET, die nasionale rolprent- en videostigting, die departement van handel en nywerheid en Filmfinity (Edms) Bpk.