Bo: Dyan Buis hardloop op Coetzenburg. Foto: Francois Lombard.

– Lia Snijman

Dyan Buis (30) is ‘n onderwyser by Hoërskool Lückhoff, besig met sy meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy preek gereeld as ‘n pastoor en dan is hy boonop besig om reg te maak vir sy finale Paralimpiese Spele.

Buis vertel hy is al ‘n “ou kat” as dit kom by die Paralimpiese Spele. Hy is al vir 10 jaar in die sport en was by die 2012 en 2016 Paralimpiese Spele. In 2012 in Londen het hy twee silwer medaljes en een brons medalje gewen. In 2016 in Rio de Janeiro het hy ‘n goue medalje en ‘n brons medalje verower.

Buis met twee Kolombiaanse atlete tydens die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro.

Buis met twee Kolombiaanse atlete tydens die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: Facebook.

Buis preek sommige Sondae. Foto: Facebook.

Buis preek sommige Sondae. Foto: Facebook.

Hy sê die uitdagings is wel elke keer anders en dat dit vat fokus en deursettingsvermoë om aan te hou deelneem en presteer.

Hy het serebrale verlamming (cerebral palsy) wat sy linkerkant van sy lyf geaffekteer het. Sy linkerarm is redelik geaffekteer, met sy arm wat korter is en die hand wat swakker is. Sy linkerbeen is egter heel sterk. Dit is hoekom hy in die T38-kategorie is. Dit is vir diegene wat atletiek doen met serebrale verlamming, maar wat die sterkste is in hul groep.

 Buis gaan deelneem aan die 400m as sy hoofitem en ook in die verspring en die 100m. 

Hy sê hy sou eerder aan die 200m wou deelneem, maar dit is nie beskikbaar vir sy kategorie nie. 

Hy wou eintlik reeds hierdie jaar as atleet uitgetree het, maar as gevolg van Covid-19 sal hy nou eers na die Paralimpiese Spele in 2021 aftree. Buis sê hy was gefrustreerd oor die uitstel, want hy was op ‘n goeie fisiese en geestelike vlak. Hy moes homself afvra of hy vir nog 18 maande sal wil oefen. Hy voel wel dat die rus goed was vir hom en hy is nou weer gemotiveerd aangesien hy al vir twee maande lank weer aan die oefen is.

Hy sal wel nog na 2021 as ‘n administrateur by die sport betrokke wil wees.

Sy trotste oomblik wat hy al in sy sportloopbaan gehad het, was in 2016 se Paralimpiese Spele toe hy die goue medalje gewen het. Dit was sy eerste goue medalje en hy sê dat om die volkslied te hoor speel danksy sy prestasie en dit te sing, was die “beste gevoel”.

Hy kry ongelukkig nie op die oomblik ‘n inkomste uit sy sportloopbaan nie en sê borgskap vir voorbereiding is “baie belangrik” en kan ‘n “groot verskil” maak.

Buis is op die oomblik ook ‘n onderwyser by Hoërskool Lückhoff. Hy kon hierdie week by die Kaapse Wynlande Lenteskool geografie aanbied. Daar was leerders van Hoërskool Ashton, Hoërskool Breërivier, Hoërskool Lückhoff, Hoërskool Paulus Joubert, Hoërskool Cloetesville en Hoërskool Kylemore. Hy sê dis ‘n “fantastiese voorreg” om met die kinders te kan werk.

Hy hoop om na sy meestersgraad in onderwysbeleid, wat handel oor leer met gestremdhede in hoofstroomskole en die beleide wat dit beïnvloed, ‘n PhD ook te doen. Hy hoop om eendag aan die US te werk en daar onderwysers op te lei in die fakulteit opvoedkunde.

Op party Sondae, soos hierdie komende een, gaan preek Buis by die Apostoliese Geloofsending (AGS) Cloetesville. Hy is aktief betrokke by hierdie kerk.

Hy sê dis soms moeilik om alles gedoen te kry en dit plaas druk op sy familielede, maar dat hy wel ‘n goeie ondersteuningsnetwerk het. Hy sê die grendeltyd het vir hom ‘n lekker geleentheid gebied om te rus.

Buis bly nou al vir die afgelope sewe of agt jaar in Stellenbosch nadat hy in Riversdal gebore is en daar grootgeword het. Hy bly in La Colline in Die Boord met sy vrou, met wie hy al vir sewe jaar getroud is, en hul twee kinders, ‘n 6-jarige meisie en ‘n 2-jarige seun.