Bo: Inheemse peulplante is een kant toe geskuif, net soos die geval is met blaargroentes wat mikrovoedingstowwe kan verskaf wat die vernaamste voedingstekort op die vasteland is.

Afrika-regerings en die Afrika-unie moet vóór 2050 die regte beleide formuleer ten einde te help om voedselsekerheid op die kontinent en in die res van die wêreld ʼn werklikheid te maak. Só meen dr Ethel Phiri (Departement Agronomie) en Magisterstudente Elsje Dippenaar, Mpho Molapo & Philasande Feju (Suider-Afrikaanse Volhoubare Landbou-program) in ’n meningstuk vir News24 op 30 Oktober.

Ontwikkeling in die landbou het tot die vermindering van gewasverbouing gelei. Ontwikkelende lande word grootliks affekteer deur die bekendstelling van die groenrewolusie, wat op hoër insette en maksimum uitsette fokus. Terwyl dit tot die intensifikasie van ‘n paar graanverbouings soos rys, mielies en koring gelei het, het dit die landbou vatbaarder vir peste, siektes en klimaatsverandering gemaak.

Ons het nou in die Vierde Industriële Rewolusie in beweeg, met Afrika wat meestal agtergelaat is en waar daar steeds op tradisionele boerderymetodes staatgemaak word. Hoewel daar self van Afrika verwag word om ‘n wêreldbevolking te voed wat teen 2050 nagenoeg 10 miljard mense sal bereik, is armoede en wanvoeding steeds groot uitdagings op die vasteland.

Die idee dat Afrika die wêreld teen 2050 sal voed, is gegrond op die veronderstelling dat dit meer as 60% onverboude bewerkbare grond het wat vir die verbouing van voedsel vir die wêreldbevolking gebruik kan word. Daar bestaan geen twyfel dat baie mense in Afrika die meeste van hul kalorieë deur die eet van graankosse inneem nie, en om dit te hê as die voorste produsent van graankosse vir uitvoer na die res van die wêreld behoort haalbaar te wees.

Daar was al voorstelle dat Afrika se onverboude, bewerkbare grond vir die produksie van graankosse, spesifiek mielies, koring en rys, gebruik moet word. Die landbou-intensifikasie van hierdie stapelgewasse en die verbruik daarvan het egter nie armoede en wanvoeding in veral onderontwikkelde lande verminder nie. Die probleem met hierdie stapelgewasse is dat hulle vatbaar vir peste, siektes en klimaatsveranderinge is. Wat kommerwekkend is, is dat daar baie ander gewasse is waaraan daar nie dieselfde aandag as aan graankosse gegee word nie. Inheemse peulplante is een kant toe geskuif, net soos die geval is met blaargroentes wat mikrovoedingstowwe kan verskaf wat die vernaamste voedingstekort op die vasteland is.

Wanneer ons Afrikadag vir Voedsel- en Voedingstofsekerheid (30 Oktober) herdenk, is dit belangrik om te besef dat Afrika-regerings en die Afrika-unie voor 2050 beleide moet formuleer wat kleinboere en individue wat vir lewering aan informele markte produseer, sal bemagtig. Die informele sektor se landbou-waardeketting bestaan uit plaaslike voedselmarkte en straatverkopers wat hul vars produkte by groot, sentrale markte of van die bestaans- en kleinboere self bekom. Hierdie sektor is ‘n belangrike bron van inkomste vir boere of verkopers, asook vir diegene wat by die lewensiklusontleding van produkte betrokke is.

Maar omdat dit informeel is, is daar gewoonlik geen formele registrasie as ‘n sakeonderneming nie, ‘n gebrek aan ‘n behoorlike raamwerk, ‘n gebrek aan bates en is higiëne en netheid nie ‘n hoë prioriteit nie. Aangesien wetgewing ook skaars toegepas word, loop informele handelaars soms die gevaar dat daar onwettig op hul ware beslaggelê sal word. Skakeling tussen formele en informele saadsektore sal help om die diversifikasie van gewasvariëteite te verbeter, wat tot ‘n afname in armoede en wanvoeding sal lei, en plante sal toenemend verkragtig wees teen klimaatsverandering.

Daar bestaan inderdaad geen twyfel dat projeksies vir klimaatsverandering waarskynlik ‘n groot invloed op die landbou sal nie hê weens veranderlikhede en onsekerhede in omgewingsfaktore (droogtes, vloede, hoë temperature en onsekere reënval). Dit sal ‘n negatiewe invloed op landbouproduktiwiteit en voedselverbouing hê, wat tot ‘n geweldige voedseltekort en ‘n styging in voedselpryse lei. Daarom moet regerings en belanghebbers in die landbou saamwerk en klimaat-slim aanpassingstrategieë ontwikkel wat gemik is op die volhoubaarheid van alle tipes boerdery. Dit is ook belangrik om die vermoë te erken wat inheemse en tradisionele gewasse het om die diversifikasie van voedselverbouing uit te brei.

Ons wil nie pessimisties klink nie, maar dit lyk onwaarskynlik dat Afrika teen 2050 in staat sal wees om meer as 10 miljard mense te voed, wat nog te sê om die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD’e) teen 2030 te bereik. Die eerste twee VOD’e is om armoede in al sy vorms oraloor te beëindig en geen hongerte. Ongelukkig kon Afrika, veral Afrika suid van die Sahara, sover nog nie enigeen van die doelwitte bereik nie. Met slegs die helfte van ‘n dekade nog oor, is nie Afrika of die wêreld op koers om die wêreldwye voedingsdoelwitte te bereik nie, veral nie dié van Geen Armoede en Zero Hongerte nie. Een van die hindernisse om hierdie doelwitte te bereik, is die wankonneksie tussen regeringsbeleide wat die verskaffing van gesonde kos bevorder en ondersteun en regeringsbeleide wat ekonomiese groei ondersteun, wat die onsamehangendheid van beleide tot gevolg het.

Die volgende drie hoofaspekte kan wêreldwyd en in Afrika tot die onsamehangendheid van beleide ten opsigte van ekonomiese groei en voedselsekerheid en voeding lei: 1) beleide wat met voeding verband hou wat die beskikbaarheid van hoogsverwerkte en ongesonde kosse moet beperk, is in teenstelling met ekonomiese beleide wat op beleggings in die kleinhandel en verwerking fokus, aangesien regerings in verskeie gebiede in die aanvoerketting beleggings het; 2) beleide wat die liberalisering van beleggings en handel bevorder, kan voedselsekerheid en voeding negatief beïnvloed en kan tot toenemende mededinging tussen voedselverwerkers lei. Dit sal weer tot ‘n toename in die beskikbaarheid van en ‘n daling in pryse van hoogsverwerkte produkte lei wat met dieet-verwante nie-oordraagbare siektes verband hou; en 3) die aanmoediging van ekonomiese groei deur aanvoerkettingbeleide wat nie die oogmerke rakende voedselsekerheid en voeding in ag neem nie.

Daarom sal plaaslike verantwoordbaarheid en meer akkurate inligting nodig wees om voedselbeleide te formuleer wat eie is aan gemeenskappe ten opsigte van hul voedselsekerheid en voedingsondervindings, aangesien huidige beleide hoogs gesentraliseerd en onvoldoende is. Om mense van passiewe verbruikers na voedselstelselbegunstigdes te verander, moet voedselbeleide meer deelnemend, inklusief en gemeenskapsgeoriënteerd wees.

Ons glo drie dinge moet gebeur alvorens Afrika die wêreld sal kan voed. Eerstens moet regerings fiskale aansporings bied wat ‘n styging in die produksie en toeganklikheid tot gesonde voedsel sal toelaat deur skakels tussen verbruikers en produsente te skep. Tweedens moet kleinboere en produsente aangespoor word om hoogsvoedsame voedselsoorte te produseer. Hierdie geleentheid kan dus tot voedingryker diëte asook ekonomiese groei lei deur ‘n toename in werksgeleenthede. Derdens moet die voedingsgehalte van die verskaffing van voedsel by beleidsdoelwitte regoor die waardeketting ingesluit word en formele kanale moet vir die burgerlike samelewing geskep word om deel te neem aan ekonomiese beleidsformulering wat voedselverskaffing sal beïnvloed, asook vir beleide wat op voedsel- en voedingsekerheid gerig is.