Bo: Tarauai Mbofana, ‘n uitstaller by een van die stalletjies en burgemeester Gesie van Deventer vier die opening van die mark in een van die nuwe uitstalspasies.

Franschhoek het die afgelope naweek ‘n vroeë Kersgeskenk ontvang in die vorm van ‘n nuwe markruimte vir informele handelaars.

Daar word reeds vir meer as 15 jaar handel gedryf langs die munisipale kantore in Franschhoek. 

“‘n Netjiese perseel is egter noodsaaklik vir goeie besigheid en daarom is daar in 2017 besluit om die bestaande perseel op te gradeer. Konstruksie het in Junie 2018 begin en dit is binne 18 maande voltooi.  Die koste van die projek het R2,2 miljoen beloop,” het Gesie van Deventer, Stellenbosch se burgemeester, gesê.

“Die toekenning van stalletjies binne die markspasie is gedoen volgens die munisipaliteit se informele handelaarsbeleid. Die ruimtes is geadverteer en ‘n keuringsproses is gevolg vir alle aansoekers wat die ruimte wil gebruik om seker te maak ons skep ‘n volhoubare besigheidsomgewing in lyn met ons ekonomiese ontwikkelingsbeleid.

“Dié beleid vereis dat al die handelaars onderworpe is aan die reëls en regulasies sodat almal ‘n gelyke en regverdige kans kry om by die mark besigheid te doen. Voorkeur word gegee aan inwoners van Franschhoek en handelaars wat net in Franschhoek besigheid doen. Die volhoubaarheid van die produkte en ware word ook in ag geneem.

“Die nuwe markruimte skep ‘n veiliger en aangename omgewing vir handelaars en besoekers. Ons onderneem ook om op die lang termyn hierdie handelaars by te staan met sakeopleiding en so volhoubare besigheidspraktyke en kennis aan die gemeenskap oor te dra.”

Verskeie ruimtes is reeds aan plaaslike handelaars op ‘n kontrakbasis toegeken en die verskeidenheid van handelsware is besonders. Die mark is net betyds oop vir plaaslike Kersinkopies.

 – Stellenbosch Munisipaliteit